Kalkfeld-boere loop onder diewe deur

Talle verloor vee, wild
Dragtige koeie, gemsbokke en selfs 'n bul was die afgelope weke die teiken van diewe wat boere in die Kalkfeld-omgewing teister.
Elvira Hattingh
’n Boer uit die Kalkfeld-omgewing moes onlangs sy bul skiet nadat veediewe dit met ’n assegaai deurboor het, terwyl hy terselfdertyd probeer het om ’n dragtige koei, wat ook deur die veediewe gesteek is, te red.

Dit kom terwyl talle ander boere in die omgewing ook in die afgelope twee weke verliese weens vee- en wilddiefstal ervaar het.

Gero Schonecke, wat langs ’n grondpad tussen Kalkfeld en Outjo boer, sê tydens die bogenoemde voorval het die veediewe nog twee dragtige koeie geslag – een se karkas is weggeneem en die ander een is agtergelaat en die aasvoëls het dit opgevreet.

Schonecke het vertel die assegaai was ’n meter diep in die bul ingesteek – vanaf sy borskas tot in sy maag. Hy sê hy het ’n verlies van N$105 000 by die plaaslike polisie aangemeld.

“Ek moet nou daardie bul vervang en die koeie was dragtig, alhoewel jy nie die waarde van die ongebore kalwers kan byreken nie.”

MEER VOORVALLE

Heicko Beckers het gister foto’s van ’n gemsbok gestuur wat aanvanklik in ’n draadstrik aan sy poot gevang was, maar losgekom het, net om ’n jaar later om te kom in ’n draadstrik om sy nek.

“Dit het die afgelope Sondag op die plaas Eisenberg nr. 78 by Kalkfeld gebeur. Dit raak nou erg hier en as dit so aangaan, sal daar binnekort nie meer gemsbokke oor wees nie,” het Beckers gesê.

Op die Kalkfeld-plaas Klein Okombahe, wat aan Albert Koch behoort, is twee dragtige koeie Saterdag geslag. Die velle is by die slagplek agtergelaat en die res is met ’n voertuig weggery.

Micki zu Bentheim het ook twee geslagte beeste langs die Okakarara-pad gekry, maar kon nie bepaal aan wie dit behoort nie omdat daar geen oorplaatjies op die toneel was nie.

Dit volg nadat daar ’n week vantevore, op Saterdag 22 Julie, ’n bees op die plaas Eremutua – ook naby Kalkfeld in die Omaruru-omgewing – geslag is, het Almut Koch laat weet. Daar is toe ook ’n tweede bees met ’n skerp voorwerp gesteek, wat van kant gemaak moes word omdat die dier ernstige beserings opgedoen het.

“Drie mense het die geslagte bees oor ’n ander plaas gedra tot by die grens van die Omatjete-kommunale gebied. ’n Donkiekar het die vleis daar opgelaai. Een verdagte is in verband hiermee aangekeer, maar hy is vinnig weer vrygelaat,” het Koch gesê.

Die verdagte is glo bekend daarvoor dat hy in die omgewing beeste slag en was vry op borgtog toe hy hom glo aan dieselfde oortreding skuldig gemaak het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!