Die hoof van die Namibiese polisie, inspekteur-generaal Joseph Shikongo. Foto Iréne-Mari van der Walt
Die hoof van die Namibiese polisie, inspekteur-generaal Joseph Shikongo. Foto Iréne-Mari van der Walt

Kinders slagoffers aanlyn en by die huis

Iréne-Mari van der Walt
Die hoof van die Namibiese polisie, inspekteur-generaal Joseph Shikongo, het Maandagoggend tydens ’n mediakonferensie opgemerk dat die polisie ’n kommerwekkende toename in kinderpornografiese materiaal waargeneem het wat op sosialemediaplatforms versprei word.

Hy sê ook dat kinders toenemend aan prostitusie deelneem.

“Ons kan nie die erns van dié situasie oorbeklemtoon nie, want hierdie misdade is nie net misdade teen individuele kinders nie, maar misdade teen die mensdom, die samelewing en die beginsels van ordentlikheid en geregtigheid,” het hy gesê.

Hy het ouers en ander volwassenes gewaarsku om na jong kinders om te sien om hierdie soort uitbuiting en mishandeling te voorkom.

“Ons moedig ouers, opvoeders en voogde aan om waaksaam te bly. Weet wat jou kinders doen, leer hulle oor die gevare van onsedelike dade en moedig oop kommunikasie aan,” het hy gesê.



LEER HULLE

Shikongo meen die Omusati-, Oshikoto-, Ohangwena-, Kavango-Oos- en Kavango-Wesstreek ondervind die meeste voorvalle van kinderverkragting.

“In sommige gevalle is dit dalk ’n kwessie van tradisionele denke en in ander gevalle kan dit buitelanders wees wat na ons land kom wat byvoorbeeld skaapwagters hier is en ons los ons kinders by die seuns en dan gebeur hierdie dinge,” het hy gesê.

Shikongo sê die polisie sit egter nie met hul hande gevou nie.

“Ons is in kommunikasie met ons geslagsgebaseerde geweld (GBV)-eenheid op voetsoolvlak en ons leer die gemeenskap oor die mishandeling van kinders,” het hy gesê.

Volgens Shikongo beteken dit egter nie dat ouers van enige verantwoordelikheid vrygespreek word nie.

“Ouers, moenie jou kinders saam met seuns in die huis los nie. Jy gaan weg vir die dag, jy gaan na die sjebiens, en as jy terugkom het iets gebeur. Leer kinders ook om verdagte gedrag van enigiemand aan te meld,” het hy gesê.



KUBERMISDAAD

“As jy ons vra om na ’n kubermisdaad te kyk, sal ons iets daaraan doen. Daar is kapasiteit, maar ons moet daarop verbeter,” het Shikongo gesê oor die polisie se vermoë om kubermisdade te ondersoek.

Hy meen kubermisdaad is selfs op internasionale vlak in die kollig geplaas.

“Kubermisdaad het ’n verskynsel geword en vandag fokus almal – selfs op Interpol-vlak – op dit,” het hy gesê.

Shikongo meen daar is nog ruimte vir verbetering in die polisie se vermoë om dié soort misdaad te ondersoek.

“Dis iets nuuts vir ons, maar ons het ’n kubermisdaadeenheid daarvoor gestig. In ’n voorval wat met kriptogeldeenheid verband hou, het ons na Interpol uitgereik en hulle het ons kom help,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer