No Image Caption

Kleuters verdrink in emmers water

Twee onbekende mans se lyke gevind
Vyf diere – twee wildsbokke en drie stuks kleinvee – is die naweek gestroop.
Tanja Bause
’n Trein het gister ’n inwoner van Karibib, Ronnie //Hoëbeb (39), getref; hy is na bewering op slag dood. Die voorval het omstreeks 02:27 op die spoorlyn oorkant die Engen-diensstasie op die dorp gebeur. Hy het glo op die spoorlyn aan die slaap geraak. //Hoëbeb, wat by die Shell-diensstasie werksaam was, het gister vir diens aangemeld en kort daarna vertrek om na bewering by sy huis te gaan slaap.

VERDRINKINGS

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag is die liggaam van ’n eenjarige meisie Saterdag in ’n emmer water in die Oniimwandi-nedersetting gevind. Ten tyde van die voorval was sy glo alleen in die huis terwyl haar ma onder ’n boom gelê en slaap het.

* Nog ’n eenjarige meisie het Saterdag omstreeks 18:00 op die plaas Wendelberg – sowat 25 kilometer buite Tsumeb – verdrink. Die kleuter het glo saam met ander kinders buite gespeel terwyl haar ma besig was om die wasgoed te was. Sy het later besef dat haar kind in ’n emmer water geval en verdrink het.

* ’n Agt-en-sestigjarige vrou het Vrydag tussen 10:15 en 13:35 glo by ’n huis in Hochlandpark in Windhoek verdrink. Haar man het die huis omstreeks 10:15 verlaat en omstreeks 13:35 teruggekeer. Met sy aankoms was die huis se deure gesluit en hy moes ’n spaarsleutel by sy dogter gaan haal. Hy het sy vrou in ’n bad vol water gevind.

MOORD

Die liggaam van ’n volwasse man is Saterdag omstreeks 17:40 langs die B1-pad in die noordelike nywerheidsgebied gevind. Hy is vermoedelik aangeval en het aan sy wonde beswyk. Die man se identiteit en dié van die verdagtes is nog onbekend.

* ’n Verbyganger het Vrydag omstreeks 05:20 op ’n liggaam in Ombungustraat in Okuryangava afgekom. Die polisie se voorlopige ondersoek dui daarop dat die man se regterbeen oopgesny was.

VEEDIEFSTAL

’n Veertigjarige man is Vrydag in Etoshapoort op Outjo in hegtenis geneem nadat hy in die besit van vermoedelik koedoevleis was. Hy kon nie verduidelik waar hy die vleis gekry het nie. Hy het ook 15 onwettige Best Whiskey-sakkies en 19 Yes-sigarette in sy besit gehad.

* ’n Een-en-dertigjarige man het na bewering ses bokke by die Omutomboli-beespos gesteel. Hy het glo die bokke ter waarde van N$8 400 na die Okwandja-nedersetting geneem en een geslag. Die man is vasgetrek toe hy die vleis aan ’n plaaslike cuca-winkel verkoop het. Die polisie het beslag op die ander vyf bokke en die vleis gelê.

* Drie mans van onderskeidelik 20, 26 en 33 is in hegtenis geneem nadat hulle ’n bok ter waarde van N$2 000 in die Otuani-nedersetting geslag het. Die vleis is teruggevind.

* Twee verdagtes het Saterdag omstreeks 12:30 ’n skaap ter waarde van N$1 500 van die Aroab-dorpsraad se weiveld verwyder en geslag. Die twee mans van onderskeidelik 16 en 19 is in hegtenis geneem en die vleis is teruggevind.

* Plaaswerkers van die plaas Otjipoto in die Osire-omgewing in Otjiwarongo, het Saterdag die plaas gepatrolleer toe hulle op ’n gemsbok ter waarde van N$3 000 afgekom het wat in ’n draadstrik gevang was. Die voorval is by die polisie aangemeld. Die polisie het die voetspore op die toneel gevolg wat na die huise van die mense wat besig is om die plaas te ontbos, gelei het. ’n Angolese burger (29) is gearresteer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!