Koperdiefstal neem skerp toe
Veroorsaak gereelde kragonderbrekings
Stad Windhoek het reeds vanaf die begin van die jaar meer as 'n miljoen dollar se skade gely weens die diefstal van koperkabels.
Die kragonderbreking van 13 April in Khomasdal is ’n voorbeeld van die voortdurende uitdagings wat al hoe meer Namibiërs daagliks moet trotseer.
Die kragboks se koperdrade in Gladiolastraat is sorgvuldig uitgesny, wat gevolglik dele van dié woonbuurt in donkerte gelaat het.
Volgens die Windhoekse munisipaliteit het polisiebeamptes een verdagte, wat voorheen by drie verskillende kragsubstasies gevang is, ondervra hoewel niemand nog weens dié diefstal in hegtenis geneem is nie.
Die diefstal van koperdraad gee die munisipaliteit reeds ’n geruime tyd hoofbrekens, met die tipe diefstal wat vanjaar op meer as N$1 miljoen bereken word.
Lydia Amutenya, die munisipaliteit se woordvoerder, sê skrootwerwe bied ’n winsgewend mark vir dié koper.
Sommige skrootwerfhandelaars is bewus daarvan dat die koper wat hulle koop, gesteel is en maak hulself dus medepligtig, sê sy.
“Hierdie soort handelaars moet by die owerheid aangemeld word, sodat ondersoek ingestel kan word,” sê sy.
Sarel van den Berg van Sarel Scrap Metal sê egter sy onderneming voldoen aan die wet. Die wet stipuleer dat ’n polisieverklaring ingedien moet word saam met enige aankope van meer as ’n kilogram koper.
Hulle koop slegs tweedehandse goedere aan en werk nou saam met die polisie om koperdiefstal te help bekamp, sê hy.
Hy koop glad nie mangatdeksels, waterkrane en nuwe items nie, sê Van den Berg.
Hy sê die teenwoordigheid van ’n opgeleide polisiebeampte by die weegskaal waar skrootwerfhandelaars goedere aankoop, sal baie help. Dit sal volgens hom vinnige optrede vergemaklik as ’n misdaad vermoed word, en om onmiddellik die regte vrae te kan vra.
Hy sê in Windhoek alleen is sowat 12 skrootwerfhandelaars werksaam.
Die afgelope drie maande het Windhoek 15 afsonderlike gevalle van gesteelde koperkabels ervaar.
“Dit is meer as in vergelyking met verlede jaar,” sê Amutenya.
“Dit het die stad meer as N$1,5 miljoen gekos om die gesteelde kabels te vervang,” sê sy.
Dié koste sluit in die vervanging van die koper en om die kragnetwerk te herstel.
“Die diefstal van koperkabels beïnvloed die kragtoevoer na inwoners en veroorsaak gereelde kragonderbrekings in verskeie dele in Windhoek. Stad Windhoek kan ook nie inkomste tydens dié onderbrekings genereer nie,” voeg sy by.
Onderbrekings duur gewoonlik tussen twee tot 12 uur.
“Die meeste van hierdie kriminele bedrywighede vind snags en op geïsoleerde plekke soos rivierbeddings plaas. Dit maak dit moeilik om die toneel op te spoor en verleng sodoende die hersteltyd met etlike ure,” sê Amutenya.
Die munisipaliteit het vanjaar reeds tien klagte by die Namibiese polisie aanhangig gemaak, wat volgens Nampol saam met 59 soortgelyke sake getel word wat in die laaste jaar geopen is.
“Verskeie arrestasies is gemaak, veral van misdadigers wat op heterdaad betrap is. Sommige is betrap terwyl hulle drade knip, terwyl ander in hegtenis geneem is terwyl hulle kabels in die straat opgrawe, sommige helder oordag. Van die oortreders was werknemers van Stad Windhoek. Een oortreder is drie keer gevang, maar is elke keer op borgtog vrygelaat en het daarna na sy onwettige bedrywighede teruggekeer,” brei sy uit.
Diefstal word oral in die stad aangemeld, insluitend by kragverspreidingstasies. Meer bedrywighede word net buite Windhoek opgemerk, waar die kragtoevoer van boorgate en kabels wat deur rivierbeddings loop, geteiken word, sê sy.
Inwoners van Windhoek word versoek om verdagte optredes aan te meld, veral in die geval waar mense in riviere grawe, of met koperkabels en ander verdagte items in die straat rondloop.
Amutenya sê munisipale werkers dra identifiseerbare uniforms en gebruik munisipale voertuie met die hoofstad se handelsmerk daarop.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie