Suicides top the weekend police report

photo: file
Suicides top the weekend police report photo: file

Kort nuus

Rita Kakelo
Okahandja

Beeste teruggekry ná veediefstal

Sowat 14 beeste ter waarde van ongeveer N$420 000 is die afgelope naweek van ’n plaas in die Hochfeld-omgewing gesteel. Die verdagtes is glo agternagesit en na ’n plaas naby Omitara in die Omahekestreek gevolg. Een van die verdagtes is daar in hegtenis geneem terwyl die ander daarin geslaag het om te vlug.

Die beeste is teruggevind en die polisie het beslag gelê op die bakkie en sedanvoertuig wat tydens die misdaad gebruik is. Die 45-jarige verdagte sou gister in die landdroshof op Otjiwarongo verskyn het.

Rehoboth

Jong man doodgesteek

’n Drie-en-twintigjarige man is Saterdag kort ná middernag met ’n mes in sy nek gesteek en is opslag dood. ’n Verdagte (26) is in verband met die voorval in hegtenis geneem en die polisie vermoed die voorval het gebeur nadat ’n bakleiery tussen die twee mans ontstaan het. Die voorval het voor Chillax Entertainment op Rehoboth plaasgevind.

Grootfontein

Man vas vir N$17 000 se dwelms

’n Nege-en-vyftigjarige man is die afgelope naweek in die informele nedersetting Ongongoro in hegtenis geneem nadat dwelms ter waarde van sowat N$17 000 glo in sy besit gevind is. Dit sluit na bewering meer as 97 Mandrax-tablette en 18 gram dagga in. Die verdagte sal vandeesweek in die landdroshof op Grootfontein verskyn.

Swakopmund

Baba ‘versmoor’ terwyl ma glo by buurman kuier

Die liggaam van ’n twee maande oue babameisie is in ’n huis in die informele nedersetting DRK gevind nadat die baba vermoedelik versmoor het. Volgens die polisie het die baba se ma na bewering na die buurman gegaan en die baba sonder toesig gelaat.

Windhoek

Pensioenaris in straat aangeval

’n Pensioenaris is Vrydagaand in Ongavastraat in die omgewing van Okahandja Park, Wanahede, doodgesteek. Die verdagte het van die toneel gevlug en die polisie ondersoek die voorval. – Polisie se misdaadverslag

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer