FOTO NBC
FOTO NBC

Namdia: N$40,6 m. se diamante teruggevind

Interne ondersoek aan die gang
Die amptelike opposisie het Woensdag in die Nasionale Vergadering die sluier van geheimhouding rondom die grootste diamantrooftog in die geskiedenis bevraagteken.
Elizabeth Kheibes
Byna twee maande ná die noodlottige gewapende diamantrooftog by Namib Desert Diamonds (Namdia), het owerhede na bewering diamante ter waarde van N$40,6 miljoen, ’n klein gedeelte van die verbysterende N$314,9 miljoen se diamante wat tydens die rooftog gesteel is, teruggevind.

Diamante ter waarde van N$274,3 miljoen word steeds vermis. Die Namibiese polisie gaan voort met hul ondersoek, met twee beskuldiges wat op 23 Mei in die hof sal verskyn.

Die gewaagde rooftog wat op Saterdag 18 Januarie plaasgevind het, het Namibiërs geskok toe swaar gewapende verdagtes Namdia se hoofkantoor in Windhoek bestorm, veiligheidspersoneel oorrompel en met ’n ongekende hoeveelheid diamante weggekom het.

Die rooftog het tot die dood van Francis (Gosh) Eiseb, ’n senior sekuriteitsbeampte by Namdia, en Max Endjala (44) gelei. Endjala, wat glo dood is van ’n skietwond in die kop wat hy tydens die rooftog opgedoen het, was die Trustco-groep se bedryfshoof vir interne en forensiese ondersoeke.



PARLEMENT

Net nadat McHenry Venaani, die president van die amptelike opposisieparty, die Popular Democratic Movement (PDM), Woensdag ’n dringende vraag aan die eerste minister Saara Kuugongela-Amadhila in die parlement oor die diamantrooftog gerig het, het Namdia gister ’n verklaring uitgereik.

Venaani het die owerhede se sluier van geheimhouding oor die rooftog bevraagteken en dringende antwoorde gesoek.

Hy het verwys na sewe Namdia-mediakonferensies wat op die nippertjie gekanselleer is, asook dié van Nampol.

In reaksie op die rooftog het Namdia ’n verklaring uitgereik wat bevestig dat hy uitgebreide sekuriteitsopgraderings geïmplementeer het, hoewel spesifieke besonderhede “as ’n geheim” geklassifiseer is.

“Hoewel ons om veiligheidsredes nie die besonderhede kan bekend maak nie, is beduidende maatreëls onmiddellik ná die voorval ingestel, in ooreenstemming met internasionale beste praktyke,” het Beverley Coussement, Namdia se woordvoerder, gesê.

Sy het ook bevestig dat ’n interne ondersoek van stapel gestuur is, wat gelei het tot die tydelike skorsing van Namdia se uitvoerende hoof Alisa Amupolo, die hoofbedryfsbestuurder Uahoroka Kauta, en die sekuriteitsbestuurder Paulinus Sheyapo.

Namdia beweer egter daar is tans geen bewyse wat enige personeellede met die misdaad verbind nie, behalwe die sekuriteitsbeampte, Joel Angula (45), wat in hegtenis geneem is.

Om stabiliteit te verseker, het die raad ’n sekuriteitskonsultant aangestel om toesig te hou oor die implementering van sekuriteitverbeterings. Lelly Usiku, die tussentydse uitvoerende hoof, gaan voort om die maatskappy se herstelpogings te lei.



TERUG KANTOOR TOE

Benewens veiligheidskwessies, het Namdia sy werknemers se welsyn vooropgestel.

Volgens Coussement het personeel wat deur die traumatiese voorval geraak is, individuele en groepberading ontvang.

“Hul welstand bly ons topprioriteit, en ons is daartoe verbind om die nodige hulpbronne vir genesing te verskaf,” het Coussement gesê.

Na byna ses weke van afstandwerk het Namdia-werknemers Maandag na die kantoor teruggekeer ná herstelwerk aan die perseel voltooi is.

Die maatskappy het sy verbintenis tot die handhawing van ’n veilige en stabiele werksomgewing beklemtoon.

Angula en medebeskuldigde Sam Shololo (45) is tans in aanhouding en staar aanklagte van moord, poging tot moord, roof en die besit van ongeslypte diamante in die gesig.

Die aanlyn publikasie, The Issue, het berig die polisie het vier pistole gekry, een wat aan Endjala behoort, nog een aan Shololo, en twee wat aan Namdia behoort.

“Op Saterdag 18 Januarie is 512 ongepoleerde diamantpakkies en 29 los diamante na bewering gesorteer ter voorbereiding vir ’n verkoopstransaksie vir die Maandag, net voor die rooftog plaasgevind het.

“Die diamante is gewaardeer op N$350 miljoen, die grootste diamantvoorraad in Namdia se geskiedenis,” het The Issue berig.

Namdia hou egter vol dat die gesteelde diamante N$314,9 miljoen werd is.

The Issue het verneem die polisie kon slegs 59 ongepoleerde diamantpakkies terugvind:

“Een pakkie is na bewering in Shololo se mond gevind, 17 diamantpakkies in ’n asblik in die kringtelevisiebeheerkamer, 35 ongepoleerde diamantpakkies is verspreid in die parkeerterrein ontdek, 29 los diamante is op die vloer van die kluis en ses kleiner diamante buite die kluis op die eerste vloer gevind en 13 pakkies is by Angula se huis in Khomasdal teruggevind.”

Elias Mutota, die adjunk-inspekteur-generaal van die polisie, het glo vroeër in Februarie aan The Issue bevestig dat die polisie die ondersoek sal uitbrei om alle individue wat op 18 Januarie teenwoordig was, soos Namdia-personeel, amptenare van die ministerie van myne, privaat sekuriteitspersoneel, mediese noodpersoneel en omstanders in te sluit.



VERMY VALS INLIGTING

Met ondersoeke aan die gang, het Namdia die publiek en media versoek om nie ongeverifieerde inligting te versprei nie.

“Vals inligting kan wetstoepassingspogings in die gedrang bring en onnodige paniek veroorsaak,” het Coussement gewaarsku.

Die Namdia-rooftog, een van die gewelddadigste en mees waardevolle rooftogte in Namibië se geskiedenis, bly steeds onder die vergrootglas.

Terwyl owerhede voortgaan om die oorblywende gesteelde diamante te soek en alle oortreders voor die hof te bring, het Namdia belanghebbendes verseker dat deursigtigheid en aanspreeklikheid sy herstelproses sal lei, en onderneem om die land se waardevolle diamanthulpbronne te beskerm.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer