Namibië ‘n ‘belangrike’ deurgang vir kokaïen
Suider-Afrika glo groeiende transitogebied
Buiten vir plaaslike markte binne Suider-Afrika, is die meeste van die kokaïen wat hier aanland glo vir Europa, Wes- en Oos-Asië en Australië bestem.
Tesame met ander punte in Suider-Afrika, speel Namibië se grensposte en hawe glo ’n groeiende rol as ’n deurgangsroete vir kokaïen wat vanaf Latyns-Amerikaanse lande gesmokkel.
Buiten vir plaaslike markte binne Suider-Afrika, is meeste van die kokaïen wat hier aanland glo vir Europa, Wes- en Oos-Asië en Australië bestem.
Dit luidens ’n verslag wat die Wêreldwye Inisiatief Teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad (Gi-Toc) op 15 Desember vrygestel het.
Jason Eligh, GI-Toc se senior navorser in onwettige dwelmmarkte en ook ’n beleidsontleder, verwys na Walvisbaai as een van die gewilde hawens vir kokaïensmokkelary in sy verslag getiteld “A powder storm: The cocaine markets of East and southern Africa”.
Ook op di lys is die Durbanse hawe in Suid-Afrika, Pemba en Nacala in Mosambiek, Dar es Salaam en Zanzibar in Tanzanië asook Mombasa in Kenia.
HAWENS
“Vraghouers op skepe na dié hawens vervoer dikwels groot kokaïenvragte van ’n ton of meer, met gevestigde smokkelgroepe wat daaragter sit en lank reeds beide wettige en onwettige aktiwiteite langs die kusgebiede beheer. Hulle het gewoonlik sterk politieke verbintenisse.
“Die vragte wat by die bogenoemde hawens aankom, word dikwels gestoor of herverpak om met vraghouers verder per skip of oor land vervoer te word. Kleiner hoeveelhede van die vragte word gewoonlik uitgehou as betaling of om deur plaaslike verskaffers verkoop te word,” het Eligh gesê.
Hy het verwys na die 412 kg kokaïenstene wat die Namibiese polisie in 2018 ontdek het. Dié vonds was as “fotostaatpapier” in ‘n vraghouer versteek en is glo van Santos in Brasilië na Walvisbaai via Kaapstad verskeep.
“Walvisbaai is ’n skakel in transnasionale en streekvoorsieningskettings van dié dwelm, veral as dit by die deurgangsroete na Botswana kom,” sê Eligh.
Hy voeg by dié smokkelroete loop glo vanaf die hawe via die Trans-Kalahari-roete deur Gaborone en Johannesburg.
“Boonop is die Zambezistreek se Four Points-grenspos aan die oostelike punt van die Caprivistrook ook ’n belangrike deurgangspunt na Zambië en Botswana vir onwettige middels, veral kokaïen,” sê Eligh.
Hy meen die risiko dat Botswana se Internasionale Lughawe Sir Seretse Khama in Gaborone en daarna Johannesburg se Internasionale Lughawe OR Tambo vir transnasionale kleinskaalse kokaïensmokkelary gebruik word, moet ondersoek word.
VERREIKENDE BEDRYF
“Die smokkel van kokaïen binne en deur die streek is ’n verreikende bedryf. Onderhoude in die lande dui daarop dat groot volumes van die dwelm deur en na die gebied stroom,” sê Eligh.
Alhoewel Namibië klaarblyklik ’n belangrike deurgangspunt vir die dwelm is, het die binnelandse kokaïenmark nie deel van die studie gevorm nie.
In dié verband is daar op Botswana, Suid-Afrika, Tanzanië, Zambië, Zimbabwe, Mosambiek, Eswatini, Lesotho, Malawi, Mauritius, Réunion, Madagaskar, die Comore-eilande, Kenia, Mayotte en Seychelle gefokus.
Eligh sê kokaïen is wyd in die streek beskikbaar en die beperkte konfiskering daarvan in die gebied bied nie ’n akkurate prentjie van die volumes wat deur die gebied beweeg nie.
Die smokkelnetwerke benut beide lug- en seevaart vir hul bedrywighede, met veral die Mosambiek-kanaal wat ’n groot gebrek het as dit by wetstoepassing en die monitering van hul waters kom. Eligh meen die kanaal hou ’n groeiende bedreiging vir die streek se sekuriteit in.
“Die risiko bestaan dat Madagaskar binnekort ’n sterk middel- en deurgangspunt vir kokaïen asook ander onwettige vragte kan word.”
Eligh sê inligting en die monitering van dwelmmarkte is beperk, met die meeste van die lande se wetstoepassers wat nie eens die basiese karaktereienskappe van hul binnelandse dwelmmarkte ken nie.
“Streekmarkte vir kokaïen word bevorder deur wanfunksionele regerings asook institusionele betrokkenheid en korrupsie.
“Die streekhandel van die dwelms word versterk deur samespanning met staatsagentskappe, korrupsie en staatskapings. Dit word verder aangevuur deur ’n onvermoë om wette toe te pas, onbevoegdheid en in sommige gevalle ‘n ongeërgde houding,” het hy gesê.
SUIDER-AFRIKA AS BESTEMMING
Volgens Eligh is belangrike verwikkelinge aan die gang as dit by die produksie en verspreiding van kokaïen kom – ongeag wydverspreide beheermaatreëls wat sedert Maart 2020 wêreldwyd ingestel is tydens die Covid-19-pandemie.
Inteendeel, smokkelnetwerke van kokaïen het hierdie “beheermaatreëls” vinnig omseil en die kweek van koka in die wêreld se drie grootste produserende lande het selfs nuwe rekordhoogtes of naby-rekords in die eerste jaar van die pandemie bereik, sê hy.
Eligh sê Colombië is die wêreld se grootste kokaprodusent, asook Amerika.
“Dit blyk egter of Amerika nou al minder die voorkeurmark vir kokaïen is – smokkelaars mik nou vir markte in Europa, wat tot ’n oplewing van smokkelroetes langs die Atlantiese kuslyn lei.
“Die groeiende kokaïenmarkte van Oos- en Suider-Afrika speel al hoe meer ’n prominente rol in die transnasionale vloei van die middel. Terselfdertyd beland meer en meer kokaïen in dié lande se plaaslike markte.
“Boonop bied die gebied beter gevestigde see- en lugvaartskakels na Europa, Wes-Asië, Oos-Asië en Australië,” verduidelik Eligh.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie