No Image Caption

Niemand nog gevang ná Kamanjab-rooftog

Elvira Hattingh
Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die rooftog vroeg Saterdagoggend by Ann’s Lodge naby Kamanjab nie.

Volgens die Namibiese polisie se hoof van media, hoofinspekteur Elifas Kuwinga, is ’n bejaarde egpaar Saterdag van onder meer N$5 000-kontant, twee diamant-trouringe, juwele, drie selfone, bankkaarte, sewe pare vroueskoene en ’n kamera-eenheid beroof.

Die 61-jarige man is ook tydens die voorval beseer toe die rowers hom na bewering met ’n metaalpyp oor sy lyf geslaan het. Hulle het glo na geld gesoek. ’n Saak van roof met verswarende omstandighede is aanhangig gemaak.

Volgens die polisieverslag het drie onbekende verdagtes, gewapen met pistole, omstreeks 02:27 met ’n skerp voorwerp by ’n deur in die egpaar se huis ingebreek.

Volgens lede van die gemeenskap wat die egpaar bygestaan het, is die onderneming se heining omstreeks 02:00 geknip, waarna die verdagtes by die huis se agterdeur, wat van blik gemaak is, ingebreek het. Die deur is glo gebuig en ’n gat is in die gaasdeur gemaak en die skuifslot is oopgemaak.

“Ons vermoed daar is iets in die huis gespuit, want die honde het nie geblaf nie en het net bly slaap. Niemand het wakker geword nie. Toe hulle wakker word, was die verdagtes by hulle in die kamer. Daar het hulle die man reeds die eerste keer geslaan, waarna hulle hom na die badkamer gevat en hom geskop en ‘sleg’ geslaan het,” is op ’n stemboodskap gesê wat op veiligheidsgroepe op WhatsApp uitgestuur is.

Hiervolgens het die verdagtes die kluis se sleutel, selfone en geld gesoek – of enigiets met waarde. Hulle het nie die kluis se sleutel gekry nie en dit oopgebreek. Hulle het al die juwele, geld en selfone gevat.

Hulle het ook die kamerastelsel se kaart gesoek. Die vrou het gesê sy weet nie hoe dit werk nie, toe het hulle die hele kameraboks gevat en op die vlug geslaan.

“Dit was donker en ons kon nie die spore volg nie. Ons was genoodsaak om te wag tot dit lig word. Die polisie was daar en ons het gedoen wat ons kon terwyl dit nog donker was,” lui die stemboodskap.

Die spore het glo eindelik deur ’n informele nedersetting gelei, tot naby Khorixas of moontlik Outjo toe.

Mense is gemaan om paraat te wees aangesien dit met enigiemand kan gebeur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!