Omaruru-boere in jaagtog met ‘stropers’
Dis ’n bose kringloop, sê boer
Dit kom terwyl boere se verliese weens diefstal in die Omaruru-Kalkfeld-gebied die afgelope jaar ongeveer N$1,256 miljoen beloop.
Omaruru-boere en reserviste het onlangs beslag gelê op ’n voertuig, honde en ’n gemsbokkarkas ná ’n wilde jaagtog met vermeende wildstropers, terwyl veediewe nog drie dragtige koeie van ’n ander boer geslag het.
Dit kom terwyl boere se verliese aan diefstal in die Omaruru-Kalkfeld-gebied vir die afgelope jaar op sowat N$1,256 miljoen beloop.
’n Boer uit die omgewing, Almut Koch, sê dit is net die gevalle waarvan hulle weet en wat op rekord geplaas is.
Volgens die rekords het veediewe al 44 beeste, 19 stuks kleinvee en 44 stuks wild net in die gebied gestroop, terwyl items soos sonpompe ter waarde van N$307 000 ook gesteel is.
Albert Koch van die plaas Klein Okombahe, by wie daar drie dragtige koeie die afgelope naweek geslag is, is van mening dat die diewe uit die kommunale gebied naby Omatjette kom. Hy sê die betrokke verdagte word gevang, maar keer op keer weer op borgtog vrygelaat en steel dan net weer – selfs in die kommunale gebied.
Koch se plaas is sowat 80 km wes van Omaruru geleë. Die diewe het glo die vleis van die koeie weggery, maar die koppe, bene en ongebore kalwers agtergelaat.
DUISTER PLANNE
Francois Kotze wat sowat 25 km buite Omaruru boer, vertel hulle het die afgelope Maandag ná ’n jaagtog beslag gelê op ’n voertuig, honde en die karkas van ’n gemsbok wat op sy plaas gestroop is.
“Ons het die afgelope jaar baie probleme hier en daar word al om die week of tweede week by my gestroop,” het hy gesê. Kotzé sê hy het inligting ontvang dat stropers planne beraam om verlede Maandag op sy plaas toe te slaan.
Niks het tot Woensdag omstreeks 20:00 gebeur nie, waarna hulle weer verneem het dat ’n verdagte voertuig op pad was om vermeende stropers op sy plaas te kom aflaai.
Kotze sê hulle het die voertuig ingewag en gesien dit het omstreeks 20:30 verbygekom om mense af te laai. Omstreeks 21:30 het een van sy plaaswerkers laat weet dat hy honde by een van die poste hoor blaf. Hulle was omtrent ’n halfuur voor middernag klaar geslag en is die vleis verwyder.
“Dit is natuurlik ’n groot geraas as hulle die gemsbok met die honde vaskeer. As dit donker nag is, lig hulle hom in die oë en kom van die kant af en steek hom met ’n assegaai,” sê hy.
JAAGTOG
Kotzé sê sy seun en wagte het gesien ’n ander voertuig het die stropers omstreeks 01:10 Donderdag kom oplaai. Dit was toe dat hy met reserviste op die dorp gereël het om ’n padblokkade op te stel en hy die voertuig van agter af probeer inhaal het.
“Die voertuig het by die padblokkade begin spoed verminder en begin om deure oop te maak – amper asof die kar wou asemhaal. Die volgende oomblik toe gaan die deure egter weer toe en die bestuurder trap petrol – toe ry hulle dwarsdeur die padblokkade,” het Kotze vertel.
“Ons het egter teen dié tyd die voertuig ingehaal en was reg agter hom. Toe hy by Omaruru Rest Camp verbygaan, was ons op hom en wou hom dwing om te stop. Die voertuig het egter skielik tot stilstand gekom en al die insittendes het uitgespring en weggehardloop,” sê hy.
Ten spyte van ’n soektog deur Kotze, sy seun en reserviste kon die verdagtes nie gevind word nie. Daar is egter nog vier honde en die karkas van ’n gemsbok in die kattebak gevind.
Die eienaar van die voertuig wou die volgende oggend sy voertuig by die polisiekantoor kom haal nadat hy dit glo “uitverhuur” het en nie teruggekry het nie. Tydens ondervraging het hy glo erken dat hy die bestuurder was, maar hy wou nie die name van die vier ander verdagtes bekend maak nie.
Hulle is nog op vrye voet en die honde is in die sorg van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gelaat.
OORWELDIG
Kotzé sê hulle kry baie goeie samewerking van die polisie, wat help sover hulle vermoëns strek, maar dat die polisie oorweldig is en ’n erge tekort aan hulpbronne ervaar.
“Hulle is te min en ons moet maar self die mense vang. As ons dit nie doen nie, sal niks daarvan kom nie.
“Nog ’n probleem is, al vang ons hulle, is hulle oor ’n week of twee weer uit op borgtog. Ons vang eindelik dieselfde mense oor en oor. Dit is ’n bose kringloop en die frustrasie hiervan is dat ons dit dalk nooit sal kan oplos nie,” het Kotze gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie