Oorgrensmisdaad word bekamp

Padveiligheid steeds ’n kommer
Die Namibiese polisie gebruik Interpol se databasis om gesteelde voertuie te vind.
Augetto Graig
Die Namibiese polisie (Nampol) kon verlede maand – deur gebruik te maak van Interpol se databasis (MIND) – 1 370 gesteelde voertuie identifiseer en 2 577 gesteelde of verlore reisdokumente onderskep.

Nampol se woordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, het onlangs uitgebrei oor die polisie se samewerking met Interpol en die Suider-Afrikaanse Samewerkingsorganisasie vir Streekpolisiehoofde (SARPCCO).

Weens dié samewerking is Operasie USALAMA in sy negende jaar – sedert 2013 – en is tussen 14 en 18 Augustus vanjaar in al 14 streke in Namibië van stapel gestuur.

Die aantal onwettige immigrante wat aangekeer is, het vanaf 15 verlede jaar tot 159 vanjaar gestyg. Agt-en-twintig verdagtes is verlede jaar en dieselfde getal vanjaar, weens dwelms in hegtenis geneem, hoewel die waarde van die dwelms waarop beslag gelê is van meer as N$121 000 verlede jaar tot meer as N$1,068 miljoen vanjaar toegeneem het.

Die internasionale samewerking het ook suksesse in die bekamping van omgewingsmisdaad behaal – met 11 vermeende oortreders wat vanjaar gearresteer is vir omgewingsoortredings ter waarde van ongeveer N$200 000, vergeleke met verlede jaar waar geen arrestasies gemaak is nie en geen skade aangeteken is nie.

Ses verdagtes is in 2023 vasgetrek weens beweerde brandstofsmokkelary, teenoor niemand in 2022 nie, hoewel die brandstof se waarde wat gekonfiskeer is verlede jaar meer as N$11 000 beloop het teenoor vanjaar se sowat N$6 000.

Vier mense is ook in hegtenis geneem wat na bewering elektriese bedrading gesteel het, in vergelyking met een arrestasie in 2022.

Drie mense, wat in die besit was van vier ongelisensieerde vuurwapens en 48 rondtes ammunisie, is verlede maand gearresteer, teenoor geen gevalle van die soort wat verlede jaar aangeteken is nie.

Volgens die statistiek is niemand nog tot dusver vanjaar met onwettige diamante aangekeer nie, hoewel een verdagte verlede jaar in die verband in hegtenis geneem is.

Sewe verdagtes is vanjaar vasgetrek met gesteelde eiendom in hul besit, teenoor geen arrestasies in 2022.

Shikwambi sê die publiek was behulpsaam met die misdaadbekampingsveldtog, en sy het gevra dat dit moet voortduur.

In ’n aparte vrystelling het Shikwambi ’n beroep gedoen vir algemene samewerking in terme van motorongelukke.

Die aantal ongelukke op Namibiese paaie is kommerwekkend vir die polisie, sê sy.

Altesaam 1 828 ongelukke met 3 262 beseerdes en 241 sterftes is vanaf 1 Januarie tot 27 Augustus vanjaar aangeteken.

Dit teenoor verlede jaar se 1 918 ongelukke met 3 239 beseerdes en 297 sterftes.

In 2021 het 1 809 motorongelukke voorgekom met 3 210 beseerdes en 303 sterftes.

“Dit skets ’n somber prentjie,” het sy gesê.

Sy sê die verlies aan lewens amper elke dag op Namibiese paaie kan deur voorsorgmaatreëls en verantwoordelike gedrag vermy word.

“Elke lewe wat gered word, is ’n oorwinning vir ons almal, dus begin padveiligheid by elkeen van ons,” sê sy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!