Otjiwarongo-boer ontdek slagtersnes
Kommer oor gemsbokke se getalle
'n Boer het die afgelope week 14 gestroopte gemsbokke op sy plaas gevind, terwyl hy reeds 40 draadstrikke verwyder het.
’n Boer uit die Otjiwarongo-omgewing het die afgelope week op 14 gestroopte gemsbokkarkasse op sy plaas afgekom.
Vroeër is berig dat die polisiekantoor op die dorp een van agt in die Otjozondjupastreek is wat oor geen voertuie beskik om onder meer sake van vee- en wilddiefstal wat die streek teister, te ondersoek nie.
JL Botha vertel drie van die gemsbokke het nog geleef, maar was in draadstrikke vasgevang en hy moes hulle self skiet. Tot dusver het Botha se werkers 40 draadstrikke in die kamp bymekaargemaak – en hulle is nog steeds besig om die kamp te deursoek.
“Ongeag die finansiële impak van so ’n verlies, kos dit baie mannekrag en geld om weer al die draadstrikke uit die kamp te verwyder, maar dit moet gedoen word, anders word die beeste daarin gevang en wurg hulle dood.
“As dit gedurig gebeur, gaan ek nie geboer kry nie, want ek sal die heeltyd hiermee besig wees.
Botha sê boonop is hy bekommerd oor gemsbokgetalle in die omgewing. Boere in die gebied raam dat die 2019-droogte hul getalle reeds met sowat 60% verminder het, terwyl hulle tans dikwels die slagoffers van wilddiewe is.
Die boodskap wat ons graag wil tuisbring, is dat ons wildbevolking teen hierdie trant binnekort heeltemal uitgeroei kan wees, met verreikende gevolge. Botha sê ’n gemsbok is sowat N$2 000 tot N$3 000 werd.
GRUVONDS
Botha sê hy het die slagting ontdek op ’n kamp op sy plaas wat die naaste aan Otjiwarongo geleë is.
“Soos die kraai vlieg, is dit sowat 18 km vanaf Otjiwarongo, of padlangs sowat 30 km.
“Ons het agtergekom daar is beweging in die kamp, maar daar is nie beeste in die kamp nie,” het hy gesê.
Hy sê hy het 15 mense ingestuur om die kamp te deursoek en het op al die draadstrikke en dooie gemsbokke afgekom.
“Die vleis wat nog in die bome gehang het om droog te word, het ons uitgebring. Die mense het weggehardloop, want hulle het besef ons is daar. Ons het die spore gevolg tot terug in Otjiwarongo in die informele nedersetting,” het hy gesê.
“Terwyl ons hier besig was, was hulle elders op my plaas besig om te probeer om van my waterpompe te steel. Ek het groot voorsorg getref en hulle kon dit gelukkig nie steel nie, maar daar is groot skade wat herstel moet word.
“Ons word erg geteiken deur diewe. Ek verloor jaarliks beeste. Ons het gemeet van die veediewe het 46 km tot by my gestap – met goed wat hy op sy rug gedra het. Die mense is baie vasberade,” het hy gesê.
STRYD
“Ek sê altyd vir boere, ons moenie moed verloor nie, maar ons voer ’n stryd. Dit maak ’n ou bietjie moedeloos,” het hy gesê.
Botha sê sou die polisie uitkom en die saak dokumenteer, hoor ’n mens nooit weer daarvan nie. Hy sê die probleem met private inisiatiewe vir sekuriteit is dat almal vrywilligers is en almal hul eie voltydse werk het.
Hy is van mening die enigste manier om die wilddiewe te vang, is met ’n helikopter of ’n hond, wat ook uitdagings bied.
“Al wat ons tans kan doen, is om ’n teenwoordigheid op ons plase te handhaaf.”
Hy sê wanneer boere byvoorbeeld gesteelde waterpompe aanmeld, vra die polisie altyd of hulle versekering het. Indien dit die geval is, meen hulle jy is geholpe en hulle hoef nie verdere pogings aan te wend om die saak te ondersoek nie.
Botha sê intussen raak versekeringsmaatskappye al hoe meer huiwerig om hierdie tipe plaastoerusting te verseker.
Hy sê kapanaverkopers op Otjiwarongo se strate het al prontuit aan hom erken dat hulle die vleis van gesteelde beeste verkoop.
Botha sê hy is bang dit bereik die punt waar diewe nie meer enige vrees vir hulle sal koester nie, want hulle weet daar kan eintlik niks aan hulle gedoen word nie.
“Dit kan die punt bereik wat ons hom betrap waar hy besig is om ’n dier te slag, en hy staan bloot net op en stap weg. My werkers sal hom nie vang nie, want hulle is bang omdat hy ’n panga by hom het. Ek kan hom nie inhardloop nie, ek is 65 jaar oud,” het hy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie