Renosterstropers slaan derde keer op plaas toe
Vyf verdagtes vasgetrek
Die ondersoek is tans in 'n baie sensitiewe stadium, maar hoëlui is vermoedelik by die sindikaat betrokke.
’n Karkas van ’n groot witrenosterbul is Sondagoggend op ’n plaas in die Gobabis-distrik ontdek wat al voorheen witrenosters aan die hand van stropers verloor het.
Die eienaar van Walmaine Boerdery, Walter Kinnear, is woedend en emosioneel oor die verlies van nóg ’n renoster, veral hierdie groot teelbul wat sowat 12 jaar oud was.
Die Namibiese polisie (Nampol) se woordvoerder, hoofinspekteur Elifas Kuwinga, het gister aan NMH bevestig dat die renoster met ’n vuurwapen gejag en albei horings verwyder is.
Volgens Kinnear se seun en polisiereservis, ook Walter, is die ondersoek in ’n baie sensitiewe stadium met ’n sindikaat met hoëlui wat vermoedelik betrokke is.
Die renoster is vermoedelik tussen Saterdagaand en Sondagoggend gestroop, volgens Kinnear jr., nadat die bul Sondagoggend vermis is. Die karkas is met behulp van ’n hommeltuig op die plaas opgespoor en die ander renosters is gelukkig almal ongedeerd gevind.
“Die renoster se horings is nie uitgekap nie, maar op ’n professionele manier met ’n vlymskerp, dun, plat mes tussen die skedel en horings verwyder. Hulle weet wat hulle doen,” het Kinnear jr. gesê.
Daar word nog op Nampol se forensiese eenheid gewag om na die plaas uit te kom.
Hy loof sy vier medepolisiereserviste onder leiding van Jan Pienaar, die kaptein van die reserviste in die Omahekestreek se misdaadvoorkomingseenheid, wat reeds vyf verdagtes in hegtenis geneem het.
“Ons het net Sondag meer as 70 km ver gestap en spoorgesny. Die stropers het sponse om hul skoene gedraai om hul voetspore te verbloem,” het Kinnear jr. gesê.
“Die verdagte se voertuig wat tydens die misdaad gebruik is, is al Sondagaand opgespoor.”
BOERE MOEDELOOS
Dit is nie die eerste keer dat die Kinnears onder renosterstropers deurloop nie.
Net voor Kersfees in Desember 2016 is ’n stoetbul en ’n dragtige koei wat besig was om te kalf, gestroop en hul horings verwyder. ’n Jong bul en ’n agtjarige vers is gekwes, die vers het egter ’n maand later weens haar erge skietwonde gevrek.
Vyf verdagtes, waaronder die voormalige spandokter van die Brave Warriors, dr. Gerson Kandjii, is in hegtenis geneem. Kandjii het op verskeie klagte van renosterstropery tereggestaan, asook in verband met die roof- en moordsaak op ’n plaaseienaar van Kalkrand, Reinhard Schmidt, in Februarie 2015.
Kandjii het intussen in Julie 2021 aan Covid-verwante oorsake in die Gobabis-polisieselle gesterf.
In Oktober 2020 is ’n renosterverskalfie van slegs een jaar oud wat steeds aan haar ma gedrink het, op die Kinnears se plaas gestroop. Die witrenosterkalfie se horingstompie wat “so lank soos ’n pinkie” was, is deur die stropers verwyder.
Kinnear sr. het bevestig dat die plaas ’n teenstropingseenheid het wat ’n reuse-uitgawe is, midde die versengende droogte wat boere lamlê.
“Om renosters te beskerm, het te duur geword. Ons is nog net twee boere in die Gobabis-distrik wat renosters het, die ander het hulle s’n verkoop,” het hy gesê.
Hy het ook uitgevaar teenoor die veroordeelde renosterstroper Jackson Babi wat drie maande gelede uit die tronk vrygelaat is nadat hy ’n boete van byna N$230 000 betaal het ná die hersiening van sy vonnis einde verlede jaar.
Hy is in Mei 2020 vir renosterstropery in hegtenis geneem en is gevonnis tot effektief 10 jaar gevangenisstraf, wat laat verlede jaar verminder is.
Die prediker het skuld beken op 11 aanklagte wat onder meer bestaan uit onwettige jag, diefstal, omkopery, geldwassery en die besit van renosterhorings.
Intussen het geen familielede van die twee vermeende renosterstropers wat die naweek in die westekant van die Etosha Nasionale Park deur die teenstropingseenheid doodgeskiet is, na vore gekom om vermistes aan te meld of die liggame te identifiseer nie, het Kuwinga bevestig.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie