Private rhinos
Private rhinos

Renosterstropery styg weer in 2022

Beskerming ‘uiters uitdagend’
Na raming is 93 renosters in 2022 gestroop, vergeleke met die 47 in 2021 en 43 in 2020.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit – Renosters was die mees geteikende hoëwaarde spesie in Namibië gedurende 2022 wat 24% van alle geregistreerde voorvalle van wildmisdaad uitgemaak het – met verliese weens stropery wat die hoogste sedert 2015 was.

Dít volgens die wildbeskermings- en wetstoepassingsverslag vir 2022, wat aangedui het altesaam 430 voorvalle van wildmisdaad is verlede jaar aangemeld – waarvan 106 met renosterstropery verband gehou het.

“Renostersindikate het duidelik weer hul aandag op Namibië gevestig met veranderde taktiek, wat moontlik beïnvloed is deur ’n vermindering in toeganklike teikens in ander lande,” lui die verslag.

Na raming is 93 renosters in 2022 gestroop, vergeleke met die 47 in 2021 en 43 in 2020.

Tot dusver vanjaar is 23 renosters gestroop.

“Teen ’n gesamentlike syfer van ongeveer 3 500, bly die nasionale bevolking [swart- en witrenosters] tans lewensvatbaar, hoewel 2022 nuwe kwesbaarhede ontbloot het,” lui die verslag, wat die beskerming van hierdie diere verder as “uiters uitdagend” beskryf.

NUWE STYGING

Proaktiewe arrestasies in sake waar daar saamgesweer word om te stroop, is steeds ’n noodsaaklike ingryping om verliese te verminder, terwyl stroperbendes steeds getakel word, het die verslag gesê.

Intussen word renostergebiede in verskeie dele van Namibië geteiken, met die Etosha Nasionale Park en ’n aantal private reservate wat in stropers se visier is.

Volgens die verslag het die hernieude styging in renosterstropery wat gedurende 2022 ervaar is, die mate waarin dié misdade deur georganiseerde misdaadbendes met uitgebreide netwerke gedryf word, beklemtoon.

Binnestanders speel ook glo ’n belangrike rol daarin om toegang tot renosterplase te vergemaklik of self die stropery uit te voer.

KOMMERWEKKEND LAAG

Terwyl stroperygetalle weer kommerwekkend gestyg het ná afnames van 2018 tot 2021, bly die afhandeling van sake en skuldigbevindings in hierdie sake kommerwekkend laag, het die verslag uitgelig.

Van die 682 verdagtes wat sedert die begin van 2015 in hegtenis geneem is, is net 40 (5,9%) teen die einde van 2022 skuldig bevind.

Die verslag het opgemerk dat die oorsake hiervoor ingewikkeld is aangesien alle sake in dié verband leiding van die kantoor van die aanklaer-generaal vereis voor vervolging, wat die duur van die sake verleng.

“Sakelui en prominente lede van die samelewing wat vir onwettige handel in renosterhoring in hegtenis geneem is, is in staat om uitstekende regsverteenwoordiging te kry – wat vinnige skuldigbevindings kan keer.”

Nog ’n uitdaging is dat bande tussen renosterkarkasse, vuurwapens wat gebruik is en gekonfiskeerde horings forensiese bewyse vereis, wat tyd neem om af te handel, voer die verslag aan.

NUWE TAKTIEK

Beslagleggings op renosterhorings was uiters laag in 2022 vergeleke met die hoë verliese weens stropery, wat volgens die verslag dui op ’n suksesvolle verandering in taktiek deur misdadigers.

In 2022 is op slegs vyf renosterhorings beslag gelê.

Daar is ook ’n aansienlike persentasie van renosterverwante sake wat gedurende 2022 na hoër howe verwys is, wat die kompleksiteit van dié sake weerspieël.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!