Rowers geklee soos ‘polisie’

Vyf slaan toe op Grootfontein-plaas
Die verdagtes, waarvan een 'n polisie-uniform aangehad het en die ander weerkaatsende klere, het voorgegee om 'n moordsaak te ondersoek.
Elvira Hattingh
Grootfontein se polisie, buurtwag en ander sekuriteitsgroepe het gistermiddag ten minste twee uit vyf verdagtes aangekeer wat ’n 70-jarige plaasboer in die omgewing glo aangeval en beroof het.

Spoorsnyers, hommeltuie asook padblokkades is vir die operasie ingespan en ’n beroep is gedoen op die gemeenskap om te kom help as hulle toegerus is met tweerigtingradio’s en spoorsnyers. Teen etenstyd was drie van die verdagtes egter nog op vrye voet.

Dit volg nadat die vyf – wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het wat ’n moordsaak ondersoek – Sondag toegang tot Udo Gärtner se plaashuis verkry het, hom geslaan en glo wapens, juwele en selfone ter waarde van altesaam N$178 116,20 gesteel het.

Tydens die vooval is die eiendom van gaste op die plaas ook gebuit. Dit sluit in nog vier selfone, ’n kamera, juwele en N$6 000 se kontant.

Volgens die Namibiese polisie se woordvoerder in die Otjozondjupastreek, adjudant-offisier Maureen Mbeha, het een van die verdagtes ’n uniform van NamPol se spesiale magte aangehad, terwyl die res gewone kleredrag aangehad het wat met weerkaatsers toegerus was.

Die voorval het omstreeks 20:00 sowat 30 km buite Grootfontein, op die teerpad na Rundu, plaasgevind. Die verdagtes het glo geëis dat Gärtner sy kluis oopsluit, waarna hulle hom na bewering met die agterkant van ’n vuurwapen teen sy kop en arms geslaan het.

Gärtner se vrou is nie beseer nie en hy is self in ’n stabiele toestand. Hy is gisteroggend by ’n hospitaal op Grootfontein ondersoek.

Plaaslike sekuriteitsgroepe, wat deur die nag na die verdagtes gesoek het, glo dat hulle iewers weggekruip het. Daar is nie bewyse gevind dat die verdagtes met ’n voertuig op die vlug geslaan het nie. Spoorsnyers het glo ’n sleutel en ’n handsak opgetel wat deur die verdagtes weggegooi is en hul spore tot by die dorp gevolg.

TWEEDE AANVAL

Dit volg nadat ’n bejaarde egpaar sowat ’n week vantevore by Ann’s Lodge naby Kamanjab aangeval en onder meer van N$5 000-kontant, juwele, selfone, bankkaarte, skoene en ’n kamera-eenheid beroof is.

Die verdagtes het toegang tot dié huis verkry deur ’n deur oop te breek.

Die 61-jarige man is ook tydens die voorval beseer toe die rowers hom na bewering met ’n metaalpyp oor sy lyf geslaan het. Die verdagtes het glo die kluis se sleutel, selfone en geld gesoek – of enigiets met waarde.

Ten spyte van verskeie pogings is die verdagtes nog nie aangekeer nie en het hulle moontlik na Khorixas of Outjo gevlug.

Plaaslike sekuriteitsgroepe het toe reeds gewaarsku dat hierdie soort aanvalle na verwagting al hoe meer sal voorkom en dat mense op plase meer paraat sal moet wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!