polisie
polisie

Twee polisielede in hof ná dood van man

Tydens roetinepatrollie deursoek
Die ma van 'n man wat glo deur die polisie aangerand is en daarna gesterf het, sê haar seun het ernstige beserings gehad.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Twee polisiebeamptes het gister in die landdroshof op Keetmanshoop verskyn, ná die dood van ’n 31-jarige man vroeër in Januarie.

Elleste Brandt Plaaitjie, beter bekend as Speedy, is aan sy beserings dood nadat die polisie hom glo ernstig aangerand het.

Die polisie se woordvoerder, hoofinsp. Kauna Shikwambi, het bevestig sersant Mulisa Bernard Mulisa en sersant Wilbard Neshuku het gister in die hof verskyn en is borgtog geweier.

Volgens Shikwambi is drie mans op die dorp na bewering tydens ’n roetinepatrollie vir misdaadvoorkoming gestop en deursoek.

Wat hierna gebeur het, sal volgens haar deur die polisieondersoek wat tans onderweg is, openbaar word.

Shikwambi sê ’n getuie het Mulisa en Neshuku positief tydens ’n uitkenningsparade uitgeken en hulle is in hegtenis geneem.

Op ’n vraag wanneer en waar die beweerde voorval plaasgevind het, het sy gesê sy het nie die verslag nie, maar sy dink dit was op 12 Januarie.

Dit is ook nie bekend op watter klagte die twee polisiebeamptes verskyn het nie. Wat presies gebeur het, is in geheimhouding gehul, met Shikwambi wat weinig oor die voorval verklap het.

Na bewering het die twee sersante tydens hul verskyning hul gesigte verberg, terwyl die polisie ook glo gekeer het dat die media foto’s van hulle neem.

Intussen het Michael Amushelelo, die Namibia Economic Freedom Fighters se kommissaris vir ekonomiese ontwikkeling, gister ’n protesoptog vanaf Krönlein na die landdroshof gelei waar die beamptes verskyn het.

’n Klagskrif is ook aan die polisie se bevelvoerder in die ||Kharasstreek oorhandig met ’n oproep vir die onmiddellike beëindiging van polisiegewelddadigheid in die land. Amushelelo het die polisie daarvan beskuldig dat hulle soos die apartheids-polisie van ouds optree.

“Hulle dink hulle is onaantasbaar en ontoerekeningsvatbaar. ’n Jong man wat ongewapen was, is dood. Wie se familie gaan dit volgende wees?” het hy gesê.

Amushelelo het gemaan sou Namibiërs nie teen die stelsel optree nie, “die stelsel ons gaan doodmaak”.

“Genoeg is genoeg, geregtigheid moet geskied.”

Hy het ook ’n video op sy Facebook-blad gedeel waarin onder meer Plaaitjie se ouers, Norman en Veronica, oor hul seun en sy dood praat.

’n Bewoë Norman het gevra dat almal wat by die voorval betrokke was aan die pen moet ry.

“Ek is baie hartseer dat my kind op so ’n manier moes gaan. Die drywer van die bussie is net so skuldig, almal in die bussie is verantwoordelik. Die drywer kon polisiekantoor toe gery het, maar hy het gestop en ‘snacks’ gekoop, terwyl hulle hom slaan,” het hy gesê.

Weens ’n gebrek aan ’n volledige verslag oor die voorval, is dit nie duidelik watter bussie en insittendes Norman na verwys nie.

Veronica het verwys na haar seun se ernstige beserings.

“Ek het gesien hoe lyk my kind. Die dokters het gesê ‘mevrou, hulle het jou kind erg seergemaak’.”

Veronica het ook verwys na die familie se beweerde behandeling deur die polisie ná die voorval.

“Die manier hoe hulle ons behandel het... hulle het vir ons uitgemors, vir hulle was dit ’n grap. Die hele skof moet vir sy dood verantwoordelik gehou word.”

Sy suster Jeanine het op haar beurt gesê sy is haar ouers stem om te sorg die saak word regverdig en deursigtig hanteer.

“Dit is tyd vir verandering, geen persoon verdien om só te sterf nie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!