Foto Nikanor Nangolo
Foto Nikanor Nangolo

Twee sterf in mesaanvalle

Woordewisselinge lei tot voorvalle
'n Man in die Kavango-Oosstreek is Saterdag in die hospitaal opgeneem nadat lede van die publiek hom glo aangerand het.
Nikanor Nangolo
Twee mense is die naweek in afsonderlike mesaanvalle dood, terwyl nog ’n man in die hospitaal opgeneem is nadat lede van die publiek hom na bewering aangerand het.

Die woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, het die sterftes bevestig en gesê beide voorvalle hou verband met woordewisselinge wat tot dodelike geweld geëskaleer het.

* Johannes Swartbooi (42) is Saterdag omstreeks 17:20 in die Riverside-woongebied, in die Bethanie-distrik in die ||Kharasstreek, noodlottig in die bors gesteek ná ’n rusie met ’n 26-jarige man. Die verdagte is in hegtenis geneem en die polisie het die moordwapen gevind.

* In nog ’n voorval, Sondag tussen 01:00 en 02:00, by die YB-INN Bar in Tseiblaagte op Keetmanshoop, is Alfred Gariseb (40) op slag dood nadat hy verskeie kere met ’n jagmes gesteek is. Die verdagte, ’n 32-jarige man, het Gariseb na bewering aangeval ná ’n woordewisseling oor teksboodskappe wat op sy meisie se foon gevind is. Die verdagte is in hegtenis geneem en die wapen is gevind.



GEMEENSKAP NEEM REG IN EIE HANDE

Intussen is ’n man in Kavango-Oos Saterdag in die hospitaal opgeneem nadat lede van die publiek hom glo aangerand het.

Die beweerde aanranding was glo uit weerwraak omdat hy na bewering sy meisie omstreeks 04:00 verskeie kere by die nedersetting Thikanduko met ’n voorwerp gesteek het.

Volgens Shikwambi het die 41-jarige vrou ernstige beserings opgedoen, insluitend oop wonde aan haar rug, skouer, nek en kop. Sy is na die Andara-hospitaal gehaas voordat sy in ’n kritieke toestand na die Rundu-staatshospitaal oorgeplaas is.

Die verdagte is in hegtenis geneem en ontvang tans ook mediese behandeling by die Andara-hospitaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer