Volgens die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is 30 renosters al tot dusver vanjaar in die land gestroop. Foto argief
Volgens die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is 30 renosters al tot dusver vanjaar in die land gestroop. Foto argief

Twee verdagtes vas oor renosterstropery in Etosha

Francoise Steynberg
Twee mans is in hegtenis geneem nadat hulle glo twee swartrenosters in die noorde van die Etosha Nasionale Park gestroop het.

Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Romeo Muyunda, het aan Namibia Media Holdings (NMH) bevestig dat die karkasse van ’n swartrenosterkoei en ’n mediumgrootte bulkalf Sondag by die Kameeldoring-watergat ontdek is.

Die twee verdagtes, 44 en 31 jaar oud, is onderskeidelik woonagtig in die Kotengua-nedersetting naby Opuwo in die Kunenestreek en die Omatando-nedersetting naby Ongwediva in die Oshanastreek.

Die mans het na bewering die park onwettig ingegaan en die renosters met vuurwapens doodgeskiet en hul horings afgekap.

Die Namibiese polisie het beslag op vier renosterhorings en vuurwapens gelê, wat in die verdagtes se besit was.

Die verdagtes sal vandag in die Tsumeb-landdroshof verskyn op ’n klag van die onwettige jag van spesiale beskermde wild sonder ’n permit.

Volgens Muyunda is daar vanjaar tot dusver 30 renosters gestroop, waarvan 21 in die Etosha Nasionale Park was. In totaal is 21 swartrenosters en nege witrenosters gestroop.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer