‘Veediefstalsindikaat’ loop sy rieme styf

Boere: Help dat hulle nie vrygelaat word
Sommige van die vyf verdagtes wat Dinsdagaand op Okahandja vir veediefstal gevang is, is al ses keer vanjaar vir dieselfde oortreding aangekeer en weer op borgtog vrygelaat, sê 'n lid van Otjiwarongo se buurtwag.
Elvira Hattingh
’n Groot deurbraak is Dinsdag gemaak toe vyf verdagtes wat vermoedelik aan ’n veediefstalsindikaat behoort naby Okahandja vasgetrek is.

Hul misdaadspoor strek vermoedelik so ver as Otjiwarongo, Otavi, Grootfontein, Kalkfeld, Omaruru en Karibib.

Boere uit die Okahandja-omgewing het gister ’n beroep op wetstoepassers gedoen om “ hulle grootbase” tot die saak te laat toetree.

“Ons is só bang hulle word net weer vrygelaat,” het Annette Kotze van dié omgewing aan Republikein gesê.

Hulle het ook gevra vir die media se ondersteuning in dié saak, want dieselfde groep mense is ’n maand vantevore ook vir veediefstal aangekeer. Van die vyf is al ses keer vanjaar vir veestropery gevang en is keer op keer op borgtog vrygelaat.

OKAHANDJA

Dié verwikkeling volg nadat dié dorp se polisie tesame met private rolspelers, waaronder die Nyime-teenstropingseenheid en Onyati-sekuriteit van Okahandja Dinsdagaand ’n verdagte wit bakkie probeer aftrek het.

In die omgewing van die Jumbo Charcoal-fabriek is die voertuig ingehaal en een verdagte het uit die voertuig gespring en op die vlug geslaan.

Vyf insittendes is vasgetrek en ’n vuurwapen met ’n afgevylde reeksnommer is saam met twee beeskarkasse ter waarde van N$38 000 in die voertuig gevind. Die verdagtes sal na verwagting vandag hul eerste hofverskyning maak.

“Ons wil nie hê hierdie mans moet sommer weer binne ’n week terug op die paaie wees nie. Boere kan nie meer teen die B1-teerpad boer nie. Saans moet al die beeste kraal toe gejaag word, anders word hulle geskiet,” het Kotze gesê.

Intussen het ’n boer in die Kalkfeld-omgewing, wat anoniem wou bly aangesien sy saak nog ondersoek word, by die koerant aangemeld dat hy ’n reuseslagtersnes op sy plaas ontdek het.

Die gebied is gister nog deursoek, maar daar is reeds minstens 52 karkasse van gemsbokke, elande en hartebeeste ontdek.

SAMEWERKING

Andrew Deacon, die voorsitter van die Okahandja Misdaadvoorkomingsvereniging (Ocpa), sê hierdie deurbraak is gemaak danksy die samewerking tussen landbouers oor groot gebiede van die land wat oor kamerastelsels beskik.

’n Vrou van Otjiwarongo het aanvanklik die voertuig gesien en as verdag aangemeld. Ocpa het toe die voertuig op ’n swartlys geplaas en danksy die gevorderde kamerastelsel en sagteware waaroor die vereniging beskik, is hulle dadelik daarvan in kennis gestel toe die voertuig in hul gebied inbeweeg het.

Die voertuig se bewegings is met behulp van Ocpa se kamerastelsel gevolg. Die polisie en private sekuriteitsmaatskappye is daarvan in kennis gestel toe die voertuig vir ’n uur lank tussen twee kameras verdwyn het.

Volgens die oorplaatjies van die geslagte beeste in die voertuig het dit aan Timo Giersch van die plaas Agagia behoort.

Deacon sê die samewerking tussen teenmisdaadgroepe oor groot dele van die land werk uitstekend en dit is duidelik dat stropingsindikate landswyd doenig is en nie net in een gebied spesialiseer soos tot dusver vermoed is nie.

Die voertuig is byvoorbeeld ook twee keer vantevore op ’n plaas in die Otjiwarongo-omgewing opgemerk, het hy gesê.

SINDIKAAT

Danie van der Westhuizen van Otjiwarongo se buurtwag sê die stryd teen hierdie vermeende sindikaat kom al ’n baie lang tyd.

“Hulle het in die afgelope twee weke 24 beeste in die Otjiwarongo-omgewing geskiet. Ons het foto’s van die spesifieke voertuig op al die plekke waar daar beeste geskiet is. Hulle het egter verskillende voertuie waarmee hulle werk.”

Hy vertel een van die verdagtes wat Dinsdagaand gevang is, het ’n week gelede in die hof op Otjiwarongo verskyn op verwante klagte, maar het borgtog gekry.

Hy sê die sindikaat is welbekend aan hulle en dat hierdie net ’n deel van die groep is – daar is nog ander lede wat nie gevang is nie en sommige van hulle het gister op nog ’n klag van stropery in die hof op Otavi verskyn. Hy sê die sindikaat werk skynbaar vanaf Okahandja, waarnatoe al die vleis gaan en daarvandaan dit na Windhoek en die kus vervoer word.

“Dié individue is ’n maand gelede ook gevang, van hulle is al seker ses keer vanjaar gevang en weer op borgtog vrygelaat. Daar bestaan vermoedens dat hulle vriende of familie binne die polisie het,” het Van der Westhuizen gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!