Rooi Koper, ’n stoetbul ter waarde van N$100 000 wat aan Poen Brink van Grootfontein behoort, is die afgelope Donderdag deur veediewe geslag en sy vleis weggery. FOTO VERSKAF
Rooi Koper, ’n stoetbul ter waarde van N$100 000 wat aan Poen Brink van Grootfontein behoort, is die afgelope Donderdag deur veediewe geslag en sy vleis weggery. FOTO VERSKAF

Veediewe slag stoetbul

Ter waarde van N$100 000
'n Boer in die Grootfontein-omgewing sê hy tref reeds alle voorsorgmaatreëls en het selfs sekuriteitswagte aangestel wat sy plaas gereeld patrolleer.
Elvira Hattingh
Veediewe het Donderdagoggend ’n Brahmaan-stoetbul ter waarde van N$100 000 op ’n boer se plaas net buite Grootfontein geslag.

“Ek is gatvol. Skryf dit so in die koerant,” het Poen Brink aan Republikein gesê.

“Sedert 26 Junie is dit die vyfde bul wat by my gesteel en geslag word,” het hy gesê.

Die prag-stoetbul se naam was Rooi Koper.

Poen sê hy tref reeds alle voorsorgmaatreëls en het selfs sekuriteitswagte aangestel wat sy plaas gereeld patrolleer.

“Dit was juis tydens een van die patrollies wat hulle op die geslagte bul afgekom het. Net die bul se vel was oor – al die vleis is op ’n voertuig gelaai en weggery,” het hy gesê.

Brink sê sedert 2021 is daar altesaam 43 beeste op sy plaas geslag.

“Dit is ver oor N$1 miljoen se skade. Vóór 2021 het ek nooit enige probleme hier ervaar nie,” sê hy.

Dit volg terwyl daar Donderdag ook vier waterpompe op ’n plaas naby Kalkfeld gesteel is, asook nog ’n waterpomp by Wilhelmstal. Diewe het glo gespesialiseerde toerusting saamgebring om die pompe te verwyder.

Op WhatsApp-groepe in landboukringe is daar met woede oor die nuus gereageer.

“Wanneer sal dit stop . . .?” het een boer gevra, terwyl nog ’n boer meen dat dit nou vir die veediewe “soort van ’n speletjie raak”.

Sommige boere meen dat plaaswerkers ook soms by die diefstal betrokke is, met nog ’n boer wat sê hy het Donderdag ook sy eie plaaswerkers op ’n plaas naby Grootfontein betrap waar hulle van hom gesteel het.

’n Boer, wat op die slegte nuus op WhatsApp gereageer het, sê die diewe wat plase teiken, besteel eintlik hulself.

“’n Stoetbul is toegevoegde waarde, maar nou word die waardevolste dier van ’n boer weggevat. Dit is duidelik ’n groot verlies vir die boer en dit moet op sy jaarlikse belastingopgawe as ’n verlies aangeteken word. Eindelik verloor die staat ook groot.

“Sommige mense in hierdie land is eenvoudig net te onnosel om te besef dat, verloor die staat belasting, besteel die misdadiger homself. Dan is daar geen geld vir klinieke, vir skole, vir honger of werkloses nie. Hoe moet die staat help as belastinggeld op dié manier gesteel word?”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!