Foto argief
Foto argief

Vermeende veedief bly agter tralies

'Grootste veediefstalsaak in Namibië'
André Blaauw is Woensdag in hegtenis geneem en Vrydag borgtog geweier in verband met 'n veediefstalsaak op Aranos.
Francoise Steynberg
’n Inwoner van Keetmanshoop wat na bewering 56 beeste en 100 skape van ’n plaas in die Aranos-distrik gesteel het, is agter tralies.

Andre Blaauw (41) is Vrydag in die Aranos-landdroshof in die Hardapstreek borgtog geweier nadat hy op klagte van veediefstal verskyn het.

Die eienaar van die vee, Sarel Oberholzer, meen Blaauw se inhegtenisname is die eerste stap om die grootste veediefstalsaak in Namibië te onthul.

“Dis die grootste veediefstalsaak in Namibië ooit. Blaauw het N$30 miljoen van my en my vriende gesteel,” het Oberholzer verlede week gesê.

“Hulle is ’n klomp cowboys in Keetmanshoop. Blaauw het die vee sonder permitte en toestemming van my plaas verwyder. Hy het ’n plakker op sy nuwe bakkie gesit met ‘Too fast to catch’. Nou is hy gevang!”

Volgens Oberholzer is ’n saak van bedrog ook teen Blaauw en van sy familielede aanhangig gemaak, maar sal later vandeesweek die inligting verskaf.

“Die polisie van Gochas het Vrydag nog ’n klag van veediefstal by die saak gevoeg,” het Oberholzer gesê.



ONDERSOEK DUUR VOORT

Volgens die Namibiese polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in die Hardapstreek, adjunkkommissaris John Mwatongwe, is Blaauw verlede Woensdag op klagte van veediefstal in hegtenis geneem.

“Hy is borgtog geweier, maar die ondersoek duur nog voort,” het Mwatongwe gister aan Network Media Hub (NMH) bevestig.

Blaauw se aansoek om borgtog in die Aranos-landdroshof is volgens Oberholzer tot 26 Maart uitgestel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer