POACHED: A total of 36 rhinos have been poached this year. Photo: FILE
POACHED: A total of 36 rhinos have been poached this year. Photo: FILE

Vier renosters, twee dae

Ellanie Smit
In die minder as agt maande van 2022 wat al verby is, is 36 renosters reeds oraloor die land gestroop.

In die nuutste voorvalle is die karkas van ’n witrenoster gister op ’n private plaas in die Okahandja-distrik ontdek. Maandag is karkasse van nog twee gestroopte witrenosters op ’n private plaas in die Outjo-distrik aangemeld.

Mnr. Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, het die voorvalle aan die media bevestig en bygevoeg niemand is al in dié verband in hegtenis geneem nie en ondersoeke duur voort.

Net verlede week het die ministerie gesê 33 renosters is vanjaar gestroop, waarvan 24 swartrenosters en nege witrenosters was.

Onder dié gevalle is 15 renosters wat in die Etosha Nasionale Park gestroop is, nege op bewaringsplase en nog nege op private plase.

Vandat strategieë teen wildmisdaad in nasionale parke verskerp is, het stropery afgeneem. Dit het egter stropers se visier na bewaringsplase en private plase met witrenosters laat verskuif, het die ministerie gesê.

Muyunda het gesê om renosterbewaring te versterk en verdere stropery te voorkom, sal die ministerie en sy belanghebbendes strategieë wat in nasionale parke toegepas word, ook op bewarings- en private plase in werking stel.

Die ministerie hoop die strategieë wat in nasionale parke gebruik word, sal op hierdie plase doeltrefffend wees om stropery te verminder.

Dit sluit in verhoogde grondpatrollies, lugpatrollies met ’n helikopter, die vestiging of versterking van teenstropery-eenhede, asook die betrekking van die ministerie en wetstoepassingsagentskappe by intelligensie- en wetstoepassingsbedrywighede.

Verlede jaar is 44 renosters in Namibië gestroop, terwyl 42 voorvalle in 2020, 57 in 2019, 83 in 2018 en 55 in 2017 aangeteken is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer