‘Was die ietermagôvel sy lewe werd?’

Geliefdes soek antwoorde
Die oorledene se familie, vriende en die Rundu-gemeenskap het 'n klagskrif aan die goewerneur van die Kavango-Oosstreek oorhandig waarin hulle antwoorde binne 14 dae eis.
Yandi Du Plessis
“Was die ietermagôvel meer werd as sy lewe?” Dít was die vraag wat die geliefdes van wyle Joseph Ndondji Kautjingu gevra het toe hulle onlangs ’n vreedsame protesaksie gehou het.

Die 34-jarige is op 3 Maart tydens ’n spesiale polisie-operasie doodgeskiet omdat hy vermoedelik ’n ietermagôvel in sy besit gehad het.

Hy is op 18 Maart op die dorp Mupini begrawe.

Besonderhede is vaag en die polisie swyg tot dusver oor die saak.

Dit het toe familie, vriende en die Rundu-gemeenskap genoop om die protesaksie te hou, waartydens hulle ’n klagskrif aan die goewerneur van die Kavango-Oosstreek, Bonifatius Wakudumo, oorhandig het, waarin hulle antwoorde binne 14 dae geëis het.

GERUGTE

Die klagskrif, gelees deur Kautjingu se oom, Leevi Kamalanga, was gebaseer op vrae wat die familie het, en voeg by hulle het geen benul hoe hy gesterf het nie, afgesien van gerugte wat hulle gehoor het.

Een van hierdie gerugte is dat Kautjingu op die dag van sy dood in ’n polisievoertuig gery het tot 20:00, ’n uur voordat sy familie van die skietery verneem het.

“As hy in ’n polisiemotor was, hoe en waar het hy die ietermagôvel gekry?

“Sê nou hy het ’n ietermagôvel gehad, hoekom het die konstabel by wie hy was dit nie gesien of daarvan gehoor nie?

“Was hy ’n gevaar of was hy gewapen, wat tot die skietery gelei het?” het die familie gevra en verder op bewyse aangedring.

“Hoekom was die koeëls net op sy bolyf gerig, eerder as sy bene?

“Wat was die hoofrede om hom twee keer te skiet? Was dit om hom te arresteer of om hom dood te maak?” lui die klagskrif.

“Volgens die polisie het hy probeer weghardloop. As dit waar is, hoe het die koeëls in sy skouer en heupgewrig beland in plaas van sy rug?”

‘ONS STEL ONDERSOEK IN’

Die waarnemende streekbevelvoerder in Kavango-Oos, adj. komm. Eino Nambahu, het kort ná die betoging met die media gepraat en gesê die saak is voor die hof, waar bepaal sal word wie van die betrokke groep polisiebeamptes vir Kautjingu se dood vervolg gaan word.

Hy het bygevoeg aangesien ondersoeke tans aan die gang is, kan die polisie nie in hierdie stadium meer inligting bekend maak nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!