Wilddiewe loop hul rieme styf

Huur voertuig om misdaad te pleeg
Twee vermeende gewoontemisdadigers wat Vrydag vir die onwettige jag van wild ter waarde van N$35 000 in hegtenis geneem is, is reeds skuldig bevind en hoor Vrydag hul lot.
Hoofredaksie Hoofredaksie
Hermanus Kharugab (46) wat ’n klag van poging tot moord en onwettige jag in die gesig staar, is Vrydag weer op Okahandja in hegtenis geneem vir onwettige jag.

Talle sake op Witvlei, Gobabis, Windhoek en Omaruru is glo ook teen sy makker, Ashley Eiseb – wat saam met hom in hegtenis geneem is – aanhangig.

Kharugab het na bewering in Desember 2022 ’n koedoe naby Wilhelmstal geskiet.

“Ons het hom agterna gesit. Ons was nog in die voertuig toe hy uitgespring en op ons begin skiet het. Ons het ’n saak van poging tot moord en onwettige jag teen hom gemaak,” het ’n lid van ’n teenstropingseenheid gesê.

Hy vang glo die verdagte al vir die afgelope sowat ses jaar.

“Ons het al drie van sy voertuie gekonfiskeer en hom laat toesluit, maar hy kom elke keer weer en weer uit op borgtog.”

VRYDAG

Die twee verdagtes is Vrydag omstreeks 04:00 vasgetrek met vyf bokke in hulle besit wat gestroop is.

Die mans het twee koedoes, twee waterbokke en ’n gemsbok ter waarde van N$35 000 in die Khomasstreek gestroop.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het hulle met die M53-grondpad vanaf Kappsfarm na die D2102-grondpad gery en deur die Midgard Lodge na Okahandja. Hulle het glo die diere langs die padreserwe geskiet.

Die verdagtes het ’n voertuig gehuur om die misdaad te pleeg.

Die eienaar het die voertuig se beweging op die opsporingstoestel dopgehou. Hy het besef die voertuig reis in die teenoorgestelde rigting as Kamanjab, waarvoor die voertuig gehuur is.

Hy het die polisie gekontak en die verdagtes is op Okahandja in hegtenis geneem.

Die polisie het beslag gelê op die karkasse, die voertuig en ’n vuurwapen sonder ’n sigbare reeksnommer.

Die mans het reeds in die hof verskyn en is skuldig bevind. Hulle vonnisoplegging is Vrydag.

“Ons is nou besig om al hulle uitstaande ou sake bymekaar te kry sodat ons kan bewys dat hulle gewoontemisdadigers en stropers is en nie eerste oortreders nie. Sover het ons vyf klagtes teen Eiseb en twee teen Kharugab, maar daar is meer.”

NóG VOORVALLE

’n Man het glo 25 beeste ter waarde van N$237 500 en vyf bokke ter waarde van N$12 500 van die plaas Ehafo in die Oshikotostreek onwettig verkoop en geslag.

Die eienaar het agtergekom dat sy diere minder word en die verdagte gekonfronteer. Die verdagte het beweer hy weet nie iets van die diere se verdwying af nie, maar kort daarna op vlug geslaan. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

* Vrydag omstreeks 02:00 is een beesbul en ’n vers ter waarde van N$41 000 tussen die Otjongombe- en Bulscop-nedersetting in die Otjozondjupastreek gestroop. Die verdagtes het die diere uit ’n kamp gesteel, op ’n ander plek geslag en die vleis weggery. Die verdagtes is bekend aan die polisie, maar is nog nie in hegtenis geneem nie.

* Oor die naweek is twee koeie ter waarde van N$18 000 op die plaas Davetsaub in die Otjimbingwe-omgewing in die Karibib-distrik gestroop. Die verdagtes het die heining platgetrap en die koeie het by die buurplaas ingegaan. Die verdagtes het die diere geslag en die vleis in twee voertuie gelaai. Niemand is in hegtenis geneem nie.

* Saterdag is twee mans van onderskeidelik 20 en 26 jaar oud in hegtenis geneem. Hulle het na bewering twee skape ter waarde van N$5 000 geslag. Hulle het omstreeks 02:00 by die Claasen Kamp op die Okombahe-hervestigingplaas die heining geknip en toegang tot die diere verkry. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!