‘Wildstropers’ bestook man met klippe

‘Die regstelsel laat ons in die steek’
'n Walvisbaaise sakeman het vermeende stropers agterna gesit en is langs die pad voor 'n bus vol toeriste aangerand.
Augetto Graig
’n Toerbus vol toeriste het verlede Donderdag op ’n grondpad buite Solitaire eerstehand kennis gemaak met Namibië se voortdurende stryd om sy kosbare natuurlewe te beskerm.

Hulle het aanskou hoe drie mans vir Steven Louw met klippe bestook, soos hy probeer om uit sy beskadigde voertuig te klim.

“Hulle het my aangeval toe ek aan die regterkant van die voertuig uitgeval het,” vertel Louw.

“Die mans was bo-op my en het my met klippe oor die kop geslaan. Ek was amper bewusteloos, maar ek het met hulle baklei, al het hulle my so hard geslaan.

“Ek het ’n klip in die hande gekry en net besluit ek moet baklei, toe kom die bus daar aan. Die bus se aankoms op daardie oomblik het my lewe gered,” sê hy.

Die voorval het vroeër die dag begin toe hy onbekende mans op die familieplaas Rostock met ’n voertuig in die verte sien ry het.

“Ek het rondgery om hulle te kry, maar hulle het in ’n rivierloop afgery en ek kon hulle nie meer sien nie. Toe ek op die koppie kom, toe sien ek hoe hulle vinnig ’n gemsbok agter op die bakkie laai.

“Ek het net die een karkas gesien, maar hulle het drie in die voertuig gelaai, reeds met hul koppe afgesny en derms wat uitgehaal is. Ek het besef hulle is stropers en het dadelik om hulp begin bel.

“Hulle het weggetrek en het deur die plaas gery, oor die draad wat hulle platgery het. Ek is agterna, oor die draad, en met die grondpad langs die Kuiseb-canyon af.

“Ons plaas is langs die C26 en ek het aanhou om vir hulp te vra, want dit was nooit my bedoeling om hulle manalleen te vang nie. Daar was gou mense wat hulle op die C26 ingewag het.

“Dit was maklik om hulle deur die Kuiseb-canyon te volg aangesien mens nie vinnig daar kan ry nie en hulle het ’n stofspoor gelaat.

“Hulle het die karkasse van die bakkie begin gooi om my van die pad af te probeer dwing. Ek het agter hulle gebly en toe ons uit die canyon kom, was daar padwerke voor, maar ek het nie besef hulle moet stop nie want die stof het my verblind.

“Ek kon nie betyds stop nie en het probeer rem trap, maar ek het agter in hul bakkie vasgery. Die slag het my voertuig in ’n afdraand laat beland, waar hulle my gestormloop het toe ek probeer uitklim het,” het hy gesê.

Een van die toeriste het glo selfs ’n foto geneem van een van die vermeende stropers wat met ’n geweer weggehardloop het.

Luidens die polisieverslag sê Nampol op Walvisbaai dat twee verdagtes in hegtenis geneem is nadat hulle glo om eenuur die draad beskadig en die plaas onwettig betree het.

Hulle word daarvan verdink dat hulle drie gemsbokke geskiet en Louw, met vuurwapens en klippe, aangerand het.

Verder word hulle daarvan aangekla dat hulle wildsvleis sonder ’n permit vervoer het en die wet op natuurbewaring oortree het, het Nampol se woordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, bevestig.

Hulle word ook van poging tot moord, saakbeskadiging, onwettige betreding en onwettige jag aangekla.

Sy het nie kommentaar gelewer op bewerings dat die bekende stroper Fanie Uirab een van die vier mans was wat by die voorval betrokke was nie. Uirab het glo onlangs agter tralies beland vir stropery en is nie veronderstel om op borgtog vry te wees nie.

“Ons moet uitbeeld hoe die regstelsel ons in die steek laat,” sê Louw.

“’n Mens besef nie hoe gevaarlik hierdie mense is nie. Dit was woes. Ek het amper my lewe verloor. Hierdie stropers bedreig nou ons lewens,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 33° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 21° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 18° | 34° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 22° | 38° Lubumbashi: 16° | 24° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 33° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 17° | 24° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 22° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 23° Harare: 15° | 26° #N/A #N/A