Burgemeester voel onveilig in eie stad
Gawanas gesels oor inhegtenisneming
Me. Sade Gawanas het gister betwis dat sy of enige van die betrokke inwoners onbeskof met die gewapende polisielede was, of enige onbeskofde gebare gemaak het.
Die burgemeester van die hoofstad en LPM-lid van die Windhoekse stadsraad, me. Sade Gawanas, het gister vertel hoe die Namibiese polisie haar vir ongeveer 30 minute agter in ’n polisievangwa deur die stofstrate van Windhoek se nedersettings rondgery het.
Dit volg nadat sy Maandag in boeie geslaan en agter in ’n polisievangwa gegooi is.
Volgens Gawanas was sy op ’n amptelike besoek aan die Okahandjapark-nedersetting om self te sien hoe inwoners leef en om hul probleme eerstehands te identifiseer.
Sy was besig om langs die pad met inwoners te gesels toe ’n polisievoertuig teen ’n hoë spoed aangejaag gekom het. Gawanas en die inwoners moes haas om uit die voertuig se pad te kom.
“Een van die ou mense met wie ek gesels het, het met sy hand gewys dat die polisie moet weggaan,” vertel sy van die ongelukkigheid onder die inwoners. Hierdie gebaar was egter glo die oorsaak van die gebeure wat gevolg het.
In ’n aanvanklike vrystelling deur die woordvoerder van die polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, is aangedui dat lede van die misdaadvoorkomingsforum – waarvan een ’n reservis is en twee lede van die Mans en Vroue Netwerk – betrokke was.
Sy sê hulle het Paulus Owosedstraat in Okahandjapark gepatrolleer toe hulle drie mense (een vrou en twee mans) in die pad teëgekom het.
“Die bestuurder van die polisievoertuig het na bewering die toeter gedruk, maar hulle het nie uit die pad beweeg nie. Die bestuurder het glo aangery, maar hy het gesien hoe ’n lid van die publiek ’n “middelvinger” vir hulle wys. Die bestuurder het net daar omgedraai om die lid van die publiek te konfronteer, maar dit het in ’n onderonsie ontaard wat tot die inhegtenisneming van ’n lid van die publiek – wat later as burgemeester Sade Gawanas geïdentifiseer is – gelei het,” luidens die vrystelling.
Gawanas het gister egter betwis dat sy of enige van die betrokke inwoners onbeskof met die gewapende polisielede was, of enige onbeskofde gebare gemaak het.
Inteendeel, sê sy, het polisiebeamptes geweier om hulself te identifiseer en om haar boeie af te haal tot haar lyfwag (’n polisiebeampte) sy identiteitskaart gewys het en aangedring het dat hulle haar moet vrylaat.
Gawanas het daarna klagte van onwettige inhegtenisneming, gewone aanranding en van crimen injuria, teen die betrokke polisiebeamptes by die Wanaheda-polisiekantoor aanhangig gemaak. Sy het ook vir ’n mediese ondersoek by ’n plaaslike hospitaal gegaan.
“Geweld het algemeen in ons samelewing geword,” vertel sy van hoe die voorval haar laat voel het.
“As mense jou misbruik, hoe weet jy dit as die samelewing dit as normaal ag. Daar is trauma. Ek glo die Namibiese polisie is daar om jou te beskerm, nie om jou skade te berokken nie, en om ons veilig te laat voel. As mens voel ek geskend. Ek voel ontmenslik. Kom ons vergeet ek is burgemeester, maar net as ’n mens, as ’n vrou, wat gaan in ons samelewing aan? Wanneer het dit alledaags geraak om mekaar soos honde en diere te behandel, en te verskree en te vloek? Ek voel nie beskermd nie, ek voel onveilig,” het sy gesê.
“Die haarseerste hiervan is dat mense dit elke dag moet beleef,” het sy gesê en gevra hoeveel Namibiërs sal ’n saak by die polisie aanhangig kan maak en dit op ’n skuldigbevinding sal eindig?
Shikwambi kon ook nie dié vraag beantwoord toe Republikein haar genader het nie. Sy sê sy beskik nie oor die betrokke statistiek nie, en het navrae na die kantoor van die inspekteur-generaal verwys. Dié vrae was teen druktyd onbeantwoord.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie