Egpaar sterf in brand

Henriette Lamprecht
’n Besoek aan ’n lodge in die suide van die land het Woensdag ’n uiters tragiese nadraai gehad, toe ’n egpaar in hul suite doodgebrand het.

Isak (Sakkie) Dawid Engelbrecht (76) en sy vrou Anna (Annetjie) Catherine Jacobine Engelbrecht (72) het in die brand in hul suite by die We Kebi Safari Lodge in die Maltahöhe-distrik, sowat 70 km van Sesriem, gesterf.

Volgens die Namibiese polisie se hoof vir media, hoofinspekteur Elifas Kuwinga, het die Engelbrecht’s omstreeks 16:00 saam met nog twee vriende van onderskeidelik 82 en 67 jaar by die lodge ingeboek. Die vier bejaardes is in ’n familie suite met twee kamers en ’n sitkamer gehuisves. Volgens Kuwinga het die besoekers omstreeks 17:00 aan personeel gevra om vir hulle vuur in die kaggel in hul sitkamer te maak.

“Sowat ’n halfuur later het personeel van die lodge gesien dat die grasdak van die suite brand. Hulle het soontoe gehardloop om die gaste te red en die vuur te blus,” het hy verduidelik.

Volgens hom kon twee van die gaste daarin slaag om van die vlamme te ontsnap, maar die Engelbrecht-egpaar is in hul kamer oorval.

Kuwinga sê dit is tans nie bekend hoe die grasdak van die suite aan die brand geslaan het nie.

“Die omstandighede sal deeglik ondersoek word,” het hy gesê.

In ’n onverwante voorval het ’n man Woensdag omstreeks 23:00 in sy sinkhut in Okahandjapark doodgebrand. Volgens adj. offisier Silas Shipandeni, die polisie se woordvoerder in die Khomasstreek, kon nog ’n inwoner van die hut daarin slaag om te ontsnap.

Die oorledene is as die 26-jarige Herman Panduleni Kakwiyu van die Eheke-nedersetting in Oshana geïdentifiseer. Shipandeni sê die vlamme het verder na ’n naburige sinkhut versprei wat ’n winkel gehuisves het. Dit is ook in die brand verwoes.

In ’n voorlopige ondersoek na die oorsaak van die brand het bure aan die polisie gesê Kakwiyu het glo gedrink en ’n sigaret aangesteek voor hy gaan slaap het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!