‘Gemengde reaksie’ oor polisie
Byna driekwart van die respondente wat aan ’n Afrobarometer-opname deelgeneem het, het gesê hulle glo die polisie gebruik soms uitermatige geweld wanneer hulle met verdagtes werk en gedurende protesoptogte.
Dié inligting is vervat in ’n Afrobarometer-verslag wat onlangs uitgereik is.
Dit volg ná die Ombudsman in sy jongste jaarverslag gemeld het dat die meeste klagtes wat sy kantoor ontvang oor die polisie handel.
Die terugvoering van die opname was egter nie nét negatief nie.
“Die polisie ontvang gemengde reaksie. Onder burgers wat interaksie met die polisie gehad het, sê 68% hulle het maklik bystand gekry. Een uit vyf sê egter hulle moes omkoopgeld betaal of ’n geskenk gee,” luidens die verslag.
Volgens die Ombudsman se verslag is 579 klagtes oor die polisie ontvang, en 280 oor die regbank – wat die tweede meeste klagtes ontvang het.
“Die polisie is baie belangrik vir ’n demokrasie. . . wanneer ons nie die polisie het nie, het ons anargie. Een ding wat ons sien wanneer ons die streke besoek en met die polisie se verteenwoordigers praat, is ’n gebrek aan hulpbronne. Hierdie kan strek van enigiets van ’n gebrek aan vervoer en mannekrag tot die infrastruktuur waarmee hulle werk,” het Aurelia David, die woordvoerder van die Ombudsman se kantoor, gesê.
“Dit is nie noodwendig ’n verskoning vir al die negatiewe aspekte nie, maar dit is van die dinge wat ons gesien het wat hulle kniehalter. Dit is belangrik vir hulle om wette te handhaaf en daardie aspek moet ons nie as vanselfsprekend aanvaar nie,” het sy gesê.
Tydens besoeke aan plekke van aanhouding het die Ombudsman se kantoor verskeie kwessies geïdentifiseer.
Dié verslag sê onder meer dat die Outapi-polisiekantoor “uitmekaar val” en die mure erg gekraak is, asook dat die Windhoek-polisiekantoor se ligte en meeste van die toilette glo buite werking is.
By die Otjituuo-aanhoudingselle in die Otjozondjupastreek het die Ombudsman melding gemaak van voedseltekorte en die Outjo-polisiekantoor is glo in dieselfde vervalle en vuil toestand gevind as die vorige jaar. Die Coblenz-polisiekantoor was glo ook vuil en gevangenes het na bewering gesê hulle versoeke vir skoonmaakmiddels en -materiale het dadels van gekom.
Die professionele gedrag van polisielede is ook onder ’n vergrootglas in die Afrobarometer-opname geplaas met slegs ’n derde van die respondente wat gevoel het die polisie tree gereeld of altyd professioneel op.
Meer as die helfde van die respondente (55%) het gevoel die polisie stop motoriste sonder ’n geldige rede. Omtrent 19% van die respondente het gesê hulle moes omkoopgeld betaal, ’n geskenk gee of ’n guns bewys om probleme by padblokkades te vermy.
Altesaam 65% van die respondente het gesê hulle glo die polisie is betrokke by onwettige aktiwiteite.
Een-en-tagtig persent van respondente voel die polisie sal voorvalle van geslagsgebaseerde geweld ernstig opneem. Dié persentasie neem egter af onder diegene met geen formele onderrig nie (68%) en diegene wat 55 jaar en ouer is (74%).
VEILIGHEID
Die Afrobarometer-opname toon die aantal respondente wat gesê het hulle het – sedert 2012 – al verskeie kere onveilig gevoel toe hulle in hul woonbuurt geloop het, het verdubbel. Die aantal mense wat bekommerd is oor misdaad in hulle huise het opgeskiet van 9% in 2012 na 37% in 2021 en word meer in stedelike as landelike gebiede ervaar. Diegene wat binne loopafstand van ’n polisiekantoor woon, is egter minder bekommerd oor misdaad in hul huise. Agt persent van dié wat naby polisiekantore woon, het gesê hulle het altyd of dikwels gevrees vir misdaad in hul huise teenoor 12% en 13% van diegene wat verder van polisiekantore woon.
Ongeveer 64% van die respondente het gesê hulle vertrou die polisie ietwat of baie, met 13% wat die polisie glad nie vertrou nie.
Diegene met geen formele onderrig nie het minder vertroue (51%) in die polisie as diegene wat minstens primêre onderrig ontvang het waarvan 62% tot 70% gesê het dat hulle die polisie vertrou.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie