Is dr. De Sá nog in Namibië?

Rita Kakelo
Die polisie het geweier om te bevestig of ’n Brasiliaanse mediese dokter, wat aangekla word in verband met ’n padongeluk waarin nege mense in Junie naby Otavi dood is, steeds in die land is.

Dit nadat borgtog van N$150 000 aan hom toegestaan ​​is en hy beveel is om sy paspoort aan die ondersoekbeampte te oorhandig.

Dr. Luis Charles Araujo de Sá (59) was die enigste oorlewende van die ongeluk wat die lewens van sy vrou, dr. Natale Gontijo-de-Amorim sowel as agt Namibiërs geëis het en wie se families nou vermoed dat die dokter moontlik die land verlaat het.

Hy is van strafbare manslag en roekelose, nalatige of onverskillige bestuur aangekla nadat hy na bewering ’n ander voertuig probeer verbysteek en in ’n sewesitplekvoertuig vasgery het. Agt insittendes van dié voertuig is in die ongeluk dood.

Landdros Ounjandere Ndjiharine het uiteindelik borgtog van N$150 000 aan De Sá toegestaan ​​en hom beveel om in Namibië te bly tot sy saak afgehandel is.

As deel van die borgtogvoorwaardes het die landdros egter aan De Sá gesê as hy op mediese gronde na die buiteland moet gaan, kan hy gaan solank hy besonderhede van sy aanstelling aan die Namibiese polisie verskaf.

Dié vergunning is egter deur die familie van die Namibiese slagoffers gekritiseer wat gevoel het De Sá kan sodoende maklik landuit vlug om vervolging te vermy.

Die polisie se streekbevelvoerder in die Otjozondjupastreek, komm. Phillip Hidengwa, het by navraag gesê hy het eers onlangs sy amp in die streek ingeneem en het geen inligting oor die aangeleentheid nie. Hy het Network Media Hub (NMH) na sy junior offisiere verwys, wat gevolglik geweier het om te bevestig of De Sá nog in die land is. Soortgelyke pogings om bevestiging in dié verband van die plaaslike Brasiliaanse ambassade te kry, was onsuksesvol.

DE Sá SE PROKUREUR

Florian Beukes, De Sá se privaat aangestelde prokureur, het gesê hy is nie geregtig om bekend te maak waar sy kliënt hom bevind nie.

“Ek kan nie daardie inligting bekend maak nie,” het hy gesê en bygevoeg dat hy instruksies van sy kliënt oor NMH se vrae moet kry.

Dit is nog onbekend of De Sá sy volgende geskeduleerde hofverskyning op 4 Desember sal eerbiedig.

Beukes het aangevoer dat sy kliënt die dag in die hof sal wees.

De Sá en sy vrou het in ’n Toyota Fortuner gereis toe hy na bewering ’n ander voertuig probeer verbysteeek en in die bussie vasgery het.

Ná die ongeluk waarin hy rugbeserings opgedoen het, is hy onder polisiebewaking in die Medi-Clinic Privaat Hospitaal op Otjiwarongo aangehou.

Gontijo-de-Amorim was ’n plastiese chirurg in Verona, Italië, wat by haar man aangesluit het vir ’n reis deur Afrika.

Kort nadat die egpaar in Namibië aangekom het, is De Sá deur Brasiliaanse media aangehaal waarin hy sê: “Ons gaan Afrika oorkruis in ’n SUV 4x4. Net ons twee. Sonder ’n gids. Ons sal deur verskeie parke en reservate gaan en die primitiewe natuur en sy reëls besin. . . baie bly om hierdie ou droom [van my] te verwesenlik.”

REGSGESKIEDENIS

In Augustus vanjaar is die Namibiese burger Jandré Dippenaar tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op ses aanklagte van moord in verband met ’n noodlottige padongeluk waarby hy in Desember 2014 betrokke was.

Hy is daaraan skuldig bevind dat hy voertuie teen ’n hoë spoed op ’n blinde hoogte naby Hentiesbaai verbygesteek het. Dit het tot ’n trompop botsing met ’n ander voertuig gelei.

Drie passasiers in Dippenaar se motor en drie lede van ’n besoekende Duitse gesin is in die ongeluk dood.

Dippenaar se saak is die eerste in Namibië se regsgeskiedenis waarin ’n padongeluk gelei het tot ’n skuldigbevinding aan moord, eerder as strafbare manslag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Real Valladolid 1 vs 2 Mallorca | Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano SerieA: AC Milan 3 vs 0 Lecce European Championships Qualifying: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town English Championship: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town #N/A Currency: GBP to NAD 22.84 | EUR to NAD 19.09 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.11 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.35 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.2 | USD to DZD 131.76 | USD to AOA 940.1 | USD to BWP 13.08 | USD to EGP 48.31 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1666.22 | USD to ZAR 17.1 | USD to ZMW 26.37 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1920.41 Up +0.02% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14449.05 Up +0.55% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 31276.91 Up +0.08% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9653.37 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 658.55/OZ DOWN -0.0053 | Copper US$ 4.56/lb DOWN -0.0111 | Zinc US$ 3 089.80/T DOWN -0.37% | Brent Crude Oil US$ 72.65/BBP UP +1.49% | Platinum US$ 1 001.11/OZ DOWN -0.0062 #N/A