Nog geen versoek vir pastoor-pa se arres

Henriette Lamprecht
Die Namibiese polisie wag steeds op ‘n amptelike versoek van Suid-Afrika om ‘n versoek en die wetlike dokumente deur te stuur om teen die lekeprediker op te tree wat twee weke gelede sy dogter by die skool in Hartenbos gaan haal het en nie weer terug gebring het nie.

Israel Maré, visioenêre leier van Nations Revival Ministries en sakeman is ‘n Namibiër, met sy ouers Willem en Edith wat op die plaas Arendsnes sowat 40 km noord van Kamanjab boer. Hy en sy negejarige dogter Yaleen word reeds twee weke vermis.

Sy pa Willem, Israel en Yaleen is Donderdagaand tussen Windhoek en Okhandja deur die polisie gestop om navraag te doen waarheen hulle onderweg is. Dit is glo aan die pa en seun gestel dat daar beweringe uit Suid-Afrika teen Israel is en dat hulle inligting en kontakbesonderhede moet verskaf oor waarheen hulle op pad is. Die plan was nooit om hom in hegtenis te neem nie, omdat daar tot op hede nog geen bevel of versoek van Suid-Afrika was om plaaslik teen hom op te tree nie.

“Tans is daar geen gronde vir Namibië om hom in hegtenis te neem nie. Ons wag vir Suid-Afrika om ons ‘n versoek te stuur oor wat om met hierdie man te maak,” het ‘n betroubare bron met eerstehandse kennis oor die voorval gesê.

Terwyl die gesprek aan die gang was, het Yaleen glo gevra dat sy kan uitklim om haarself in die bosse te gaan verlig. Israel is saam met haar en pa en dogter is nie weer gesien nie. Volgens polisiebeamptes kon Israel se pa Willem nadat hy vertrek het, ook nie weer in die hande gekry word nie. Die nasionale polisiewoordvoerder, adj. komm. Kauna Shikwambi het Sondag by navraag bevestig die plaaslike polisie wag vir ‘n amptelike opdrag van Suid-Afrika. Volgens Shikwambi sal Interpol se kantoor in Windhoek vandag antwoord gee “of hulle enigiets van Suid-Afrika ontvang het”.

Maré en sy vrou Phia-Mari is twee jaar gelede geskei en het gedeelde toesig. Phia-Mari het op 18 Oktober ‘n hoërhofbevel gekry dat Yaleen aan haar ma terugbesorg word. Die voormalige egpaar het ook twee seuns Samuel en David. Phia-Mari het glo intussen in Namibië aangekom toe sy hoor haar dogter is hier. Maré het Donderdag op sy Facebookblad Nations Revival Ministries waarvan hy die stigter en visioenêre leier is, ‘n video van sy ontmoeting met Yaleen by haar skool geplaas en gesê hy is bereid om te onderhandel. Maré wat verkies om eerder via sy sosiale platforms te onderhandel, het in nog 'n plasing op die Facebookblad Nations Revival 'n foto van hom en sy drie kinders geplaas toe hy hulle glo die laaste keer gesien het. Voor hulle Suid-Afrika toe is en hy nie geweet het hulle sou nie van die “nimmereindigende vakansie” terugkeer en dat hy as pa sonder enige rede toegang tot hulle geweier sou word nie. Hy beklemtoon ook dat hy nie sal rus voordat sy seuns in hul geboorteland terug is en hy regmatige toegang tot al sy kinders het nie.

“Wat ons nou deurgaan, is nie oor wraak aan my kant nie. Ek het vergewe en baie dinge al ‘n lang tyd gelede laat gaan.” Hy skryf verder “ek sal eerder God as mense behaag. My lewe is ‘n lewende opoffering en om hierdie net te laat gaan, sou beteken ek laat vaar my rol as ‘n pa en in effek maak ek van hulle weeskinders.” In een van die verskeie kommentare op die plasing is beweer Maré “was in ons dorp en het lifts gesoek by mense. Half 12 in die nag. En toe hardloop jy in die bos in met haar. Daai tyd van die nag met haar in strate rondloop”. ‘n Ander vra op die beurt of daar enige bewyse is dat sy voormalige vrou die kinders onwettig sonder dat hy geweet het na Suid-Afrika gebring het, terwyl ook beweer word dat Maré glo die afgelope twee jaar nie onderhoud betaal het nie en na bewering sy vrou verneuk het. Volgens dieselfde kommentaar was Maré glo bewus van die feit dat sy voormalige vrou en hul drie kinders wettiglik na Suid-Afrika verhuis het. Verskeie van die kommentare is egter ook ter ondersteuning van Maré, met mense wat vir hom en sy kinders bid. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!