Joseph Shikongo
Joseph Shikongo

Polisiehoof ‘binnekort terug by die werk’

Aandrang op ondersoek na noodlottige ongeluk
'n Saak van strafbare manslag en nalatige bestuur word ondersoek.
Tuyeimo Haidula
Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, genl.maj. Joseph Shikongo, wat einde verlede jaar in ’n motorongeluk beseer is, sê hy sterk by die huis aan en sal binnekort terug by die werk wees.

Dit volg te midde van eise dat hy strafregtelik vervolg behoort te word.

Shikongo het Maandag gesê sodra hy weer op kantoor is, sal sake soos normaal hervat. Hy is geskeduleer om polisiebarakke wat vir beamptes by Onamafila in die Ohangwenastreek gebou is, te gaan inwy.

Die polisiehoof is verlede Maandag uit die Ongwediva Medipark-hospitaal ontslaan en sterk by sy huis in die noorde van Namibië aan.

Die ongeluk het op 30 Desember omstreeks 01:00 by die dorp Iindangungu op die hoofpad tussen Ondangwa en Oshikango plaasgevind toe Shikongo se private voertuig – ’n wit Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie – trompop met ’n wit Hyundai-luikrugmotor gebots het.

Al drie insittendes van die Hyundai is op slag dood. Shikongo, die enigste oorlewende van die ongeluk, is hospitaal toe gehaas vir mediese behandeling en het die naweek daar deurgebring.

Hy het gesê hoewel hy uit die hospitaal ontslaan is, is hy steeds met siekverlof en neem hy voorgeskrewe medikasie. Hy het nie ’n presiese datum gegee wanneer hy weer op kantoor sal wees nie, maar het gesê dit sal “binnekort” wees.

Shikongo het ook gesê hy het geen permanente beserings opgedoen nie.

Die oorledenes is geïdentifiseer as Frans Pombili Ndengu (27) van die dorp Omena, Sofia Natangwe Ananias (22) van Onekwaya-Wes en Stefanus Hafeni Shahafifange Lukas (22) van Eendobe.

’n Saak van strafbare manslag en nalatige bestuur word tans ondersoek.

GEEN SIMPATIE

Die ekonomiese kommissaris van die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF), Michael Amushelelo, wat self verskeie botsings met die gereg gehad het, het gesê Shikongo behoort sy bedanking in te dien en moet in hegtenis geneem word.

“Ons kan nie simpatiek teenoor die polisie-generaal wees terwyl ons drie families het wat hul geliefdes verloor het nie,” het hy gesê.

Amushelelo sê hy moes self die gevolge van sy dade dra toe hy ook12 jaar gelede in ’n motorongeluk betrokke was. “Ek is in hegtenis geneem en moes in die hof verskyn om geregtigheid in die gesig te staar,” het hy bygevoeg.

In 2015 is Amushelelo daaraan skuldig bevind dat hy sonder ’n rybewys bestuur het en ’n ongeluk in 2010 veroorsaak het deurdat hy te vinnig gery het. Die ongeluk het tot een sterfte gelei en nog ’n persoon verlam gelaat.

“Indien niemand bo die wet verhewe is nie, moet Joseph Shikongo teen môre in hegtenis geneem word,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer