Tronkbeamptes skuldig ná smokkelaar ontsnap
Ellanie Smit - Twee van die korrektiewe beamptes wat geskors is weens die vermoede dat hulle ’n hand gehad het in die ontsnapping van die Chinese renosterhoringsmokkelaar, Wang Hui, is skuldig bevind.
Adjunkkommissaris-generaal Mariana Martin van die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) het aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê op grond van ’n ondersoek ná Wang se ontsnapping is drie beamptes geskors hangende die uitkomste van opvolgondersoeke en enige daaropvolgende dissiplinêre prosesse.
“Al drie korrektiewe beamptes wat geskors is, is uiteindelik aangekla, met twee wat tot op hede skuldig bevind is aan wangedrag ingevolge die wet op korrektiewe dienste.”
Die twee beamptes is skuldig bevind aan pligsversuim.
Martin het gesê die ondersoek teen die derde beampte is nog nie afgehandel nie.
Die oorblywende beampte is aangekla van pligsversuim, versuim om enige reël, staande bevel of administratiewe voorskrif wat kragtens artikel 5(3) van die wet op korrektiewe dienste gemaak of uitgereik is, na te kom.
Martin het gesê ingevolge ’n dissiplinêre maatreël is die skuldige korrektiewe beamptes elk ’n boete opgelê.
“Aangesien slegs boetes in beide afgehandelde gevalle opgelê is, het die korrektiewe beamptes daarna hul pligte hervat.”
Die ander tronkbeampte wie se saak nog afgehandel moet word, bly geskors.
Die kommissaris-generaal van die NCS, Raphael Hamunyela, het gesê die besonderhede van die boetes wat opgelê is, word as ’n interne kwessie beskou.
“Die versekering dat dissiplinêre stappe gedoen is teen die twee beamptes wat aan pligsversuim skuldig bevind is, word as voldoende beskou vir openbare belang.”
Hy het verder gesê sedert Wang op 17 Oktober verlede jaar uit aanhouding ontsnap het, is daar nog geen spoor van hom gevind nie.
DIE ONTSNAPPING
Wang het ontsnap toe hy saam met ’n bewaarder van die Windhoek Sentrale Gevangenis Brakwater toe is om materiaal by ’n verskaffer te gaan haal.
Die materiaal was vir ’n gevangeniswerkswinkel vir ’n projek van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste.
Daar het Wang gesê hy moet die badkamer gebruik en toe die geleentheid gebruik om te ontsnap.
In die sosiale media is berig dat hy na bewering met ’n sedanvoertuig op pad na die kus was, en later is beweer dat hy in ’n bakkie vervoer word, maar niks kon bevestig word nie.
Oor die werkswinkel het Hamunyela gesê dit is deel van die gevangenes se rehabilitasieproses. ’n Raad besluit – op grond van verskeie faktore – of ’n gevangene daar mag begin werk, het hy verduidelik.
Hierdie faktore sluit in jare uitgedien, goeie gedrag en aanpassing.
Tydens hierdie werkswinkels werk gevangenes eers onder baie streng toesig, en as hulle goeie gedrag toon, kan hulle buite toegelaat word, het hy gesê.
GROOTKOP
Wang is in 2016 saam met Li Zhibing, Pu Xuexin en Li Xiaoling skuldig bevind aan pogings om 14 renosterhorings en ’n luiperdvel uit Namibië te smokkel.
Sy drie makkers is op 23 Maart 2014 by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako (HKIA) met renosterhorings ter waarde van N$2,3 miljoen asook die luiperdvel – ter waarde van sowat N$50 000 – in hul bagasie betrap.
Wang, wat glo die grootkop van die operasie is, is in Mei daardie jaar by die Windhoek Buitekluboord in hegtenis geneem.
Hulle is almal tot 14 jaar gevangenisstraf gevonnis.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie