Lt.genl. Joseph Shikongo het die behoefte aan sigbare patrollies te alle tye beklemtoon. Foto Elizabeth Kheibes
Lt.genl. Joseph Shikongo het die behoefte aan sigbare patrollies te alle tye beklemtoon. Foto Elizabeth Kheibes

Verkeersbeamptes ‘moet diskresie uitoefen’

Elizabeth Kheibes
In ’n poging om die verhouding tussen die publiek en die Namibiese polisie te bevorder, is verkeersbeamptes aangesê om ’n meer konstruktiewe benadering teenoor padgebruikers te volg wat daarvan verdink word dat hulle verkeerswette oortree.

Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Joseph Shikongo, het vroeër dié week in ’n brief aan verkeersbeamptes ’n beroep op hulle gedoen om hul diskresie uit te oefen wanneer hulle geringe verkeersoortredings teëkom.

“Beamptes word aangemoedig om eerder waarskuwings vir geringe oortredings uit te reik waar dit toepaslik is en nie altyd dadelik iemand te penaliseer of te beboet nie,” het hy gesê.

"Dié benadering sal help om ’n meer konstruktiewe verhouding tussen wetstoepassers en die publiek te bevorder, met die klem op onderrig en nakoming en nie op straf nie,” het Shikongo bygevoeg.



BEVORDER PADVEILIGHEID

Hy het beamptes aangeraai om hoflikheidskennisgewings of waarskuwings uit te reik om te help om bestuurders se gedrag te verander.

Hy het ook die behoefte aan sigbare patrollies te alle tye beklemtoon.

“U word hiermee aangesê om die volle nakoming en implementering van die volgende operasionele voorskrifte van verkeerswetstoepassing te verseker: die verpligte dra van weerkaatsende baadjies en plasing van spoedmeters. Maak seker dat alle spoedmeters nie meer as drie meter van die rand van die pad af geplaas is nie. Hierdie plasing is noodsaaklik om die veilige werking van hierdie toestelle te waarborg, terwyl die risiko vir beamptes en motoriste tot die minimum beperk word.”

Hy het verder beamptes opdrag gegee om die sigbaarheid van alle verkeersvoertuie te verseker om ’n kultuur van deursigtigheid te bevorder en nienakoming onder padgebruikers te ontmoedig.

“Beamptes word daaraan herinner om die wet eenvormig toe te pas, om te verseker dat alle individue gelyk behandel word sonder vooroordeel. Hierdie riglyn is fundamenteel vir die handhawing van die beginsels van geregtigheid en regverdigheid in ons praktyke."



POLISIEVOERTUIE

Benewens verkeerswetstoepassing het Shikongo beklemtoon die behoorlike instandhouding en gebruik van polisievoertuie is noodsaaklik om veiligheid en doeltreffendheid te verseker.

“Regulasies bepaal dat hierdie voertuie stelselmatig geïnspekteer, herstel en instand gehou moet word om aan die standaarde vir padwaardigheid voldoen.

“Boonop kan die misbruik van voertuie in staatsbesit, soos die bestuur daarvan deur ongemagtigde persone of die verwaarlosing van voertuig-instandhouding, tot dissiplinêre stappe lei,” het hy gewaarsku.

Hy het bygevoeg dat dit in die toekoms noodsaaklik is dat bevelvoerders op alle vlakke hierdie regulasies afdwing en dat lede daarby hou, wat die integriteit en betroubaarheid van die regering se vloot handhaaf.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!