Waar is Israel en Yaleen?

Byna twee weke vermis
Interpol Windhoek het wel inligting ontvang dat daar na Israel (Jacob) Maré en sy dogter, Yaleen, gesoek word.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die Namibiese polisie het tans geen wetlike instrumente om die Namibiese pastoor op tuisbodem in hegtenis te neem wat in Suid-Afrika gesoek word, nadat hy op 14 Oktober saam met sy negejarige dogter verdwyn het nie.

Die nasionale polisiewoordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, het bevestig die Nasionale Sentrale Buro (NCB) Interpol Windhoek het wel inligting ontvang dat daar na Israel (Jacob) Maré en sy dogter, Yaleen, gesoek word wat reeds byna twee weke vermis is.

“Die kantoor het met die klaer [SA polisie] in verbinding getree en amptelike kommunikasie van Interpol Pretoria versoek om te sien hoe ons kan help,” het Shikwambi gesê.

Sy het ook berigte weerlê dat daar ’n hofbevel teen Maré in Suid-Afrika is, met media in die buurland wat berig het sy voormalige vrou het ’n aansoek by die hooggeregshof ingedien dat hy sy dogter moet terugbesorg.

“Dit is nie ’n hofbevel nie, maar bloot ’n konsepaansoek dat die pa volgende jaar in die hof moet verskyn, daar is geen hofbevel nie,” het Shikwambi gesê.

“Tans het Nampol daarom geen wetlike instrumente om die verdagte [pa] te nader nie en wag nog om van Suid-Afrika te hoor. Interpol Namibië probeer nog meer inligting kry,” het sy verduidelik.

Die Suid-Afrikaanse polisie en die polisie in Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het wyd kennisgewings op sosiale en nasionale media geplaas vir enige inligting oor waar die pa en dogter hulle bevind. Dit is ook wyd in Namibië versprei, met bespiegelinge dat Maré, wat oorspronklik van Kamanjab is en in Swakopmund woon, hom moontlik hier saam met sy dogter kan bevind.

Sy voormalige vrou, Phia-Mari, ’n Suid-Afrikaanse burger, en hul drie kinders woon in die buurland.

Luitenant-kolonel Malcolm Pojie, die Suid-Afrikaanse polisie se provinsiale bevelvoerder in die Wes-Kaap, het by navraag of grensposte en lughawens in Namibië ingelig is oor die soektog na Maré en sy dogter, bloot gesê “alle moontlikhede word ondersoek”. Dit sluit in dat hy en sy dogter Suid-Afrika kon verlaat het.

Maré, wat sedert sy verdwyning met sy dogter nie bereik kon word nie, het Woensdag hom tot sy Facebookblad, Nations Revival, gewend waar hy ’n hartroerende video geplaas het van sy ontmoeting met Yaleen wat hy volgens hom ’n jaar en ses maande laas gesien het.

Hy sê ook dit is omdat hulle in Suid-Afrika is vir ’n vakansie “wat nooit geëindig het nie”. Hy verwys ook na sy twee seuns, Samuel en David, wie se verjaardag hy gister vir die tweede keer sou misloop.

“Ek is oop vir onderhandelinge ter wille van ons kinders se welstand, maar vir nou het ek die harde les geleer sodat die prokureurs die praatwerk kan doen.

“Dit is jammer, want ons kon die geld gebruik het om in die kinders se toekoms te belê, maar dit is wat dit is,” skryf hy by die plasing van die video.

Maré skryf ook as ’n evangelis “verkondig ek Jesus aan baie gebroke mense oraloor Afrika, maar ek kon nie anders as om op te staan ??as ’n pa vir my reg en verantwoordelikheid en om my reg as pa vir haar en die seuns te aanvaar nie.”

Volgens hom kan ’n ma nie ’n seun leer om boom te klim of vis te vang nie, en verg dit meer as emosies en selfsug om ’n kind groot te maak.

“Kom ons staan vir wat reg is. Geld kan nie ’n afwesige pa of ma vervang nie. Ons is almal stukkende mense en het Jesus nodig om ons harte heel te maak om ’n vaste fondasie vir ons kinders te wees.”

In een van verskeie reaksies op sy plasing het een beweer “die ma het die kinders eerste sonder toestemming uit Namibia SA toe gevat. Die kinders is Namibian en dus ontvoer uit hulle land. Die ma het ook geweier dat die pa die kinders sien, selfs met die polisie se toesug (sic).”

Maré beskryf homself op sy webblad as die stigter en visionêre leier van Nations Revival Ministries en ook as ’n “sakeman met ’n lewendige passie en ywer vir Jesus Christus en ’n hart vir mense om te sien hoe hulle gered en gevestig is in die Koninkryk van God.”

Sy Nations Revival, ’n “beweging deur die Heilige Gees” het 1 200 volgelinge, terwyl sy persoonlike Facebookblad Israel Maré 5 300 volgelinge het.

Volgens sy profiel is hy ’n openbare figuur, het by Beyond Adventure 2013 gestudeer, skoolgehou by Charisma Home School en is van Kamanjab.

Hy deel ook sy persoonlike bankbesonderhede indien iemand daartoe gelei voel om die “saad van geloof in die Evangelie-mandaat te saai”.

Maré verwys op Nations Revival se webtuiste na die Heilige Gees en Vuur-toer wat in 2024 begin het waartydens daar uitreike na 32 dorpe in 14 streke in die land was. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!