Aangewese IPC-LP’s weier om te bedank

Swapo bevraagteken billikheid
Beide die Staatsdienskommissie en die Verkiesingskommissie van Namibië het aangewese amptenare en hul werkgewers aangemoedig om die wet na te kom.
Kenya Kambowe
Sommige lede van die Independent Patriots for Change (IPC) wat tot die parlement verkies is en as staatsamptenare werk, het nie uit hul poste bedank soos deur die kieswet vereis word nie.

Hulle meen die uitkoms van verlede jaar se verkiesing in November bly ongeldig hangende die afhandeling van die hofsaak wat dié proses betwis.

Onder die lede is die IPC se woordvoerder, Immanuel Nashinge, ’n werknemer van die minister van inligting en kommunikasietegnologie; en ’n onderwyser van die Ohangwenastreek, Abed (Bishop) Hishoono.

Dit is nie duidelik of Ruth Maseke, ’n onderwyser van die Zambezistreek, wat een van Swapo se visepresident, Netumbo Nandi-Ndaitwah, se 10 benoemdes op die partylys was, uit haar pos bedank het nie.

Nashinge het sy besluit om in sy pos te bly, bevestig en verduidelik.

“Nou dat die saak in die hof is, is dit so goed as om nie ’n verkiesingsuitslag te hê nie. As die hofsaak in Augustus afgehandel gaan word, is dit sinneloos om nou te bedank. Die saak moet eers afgehandel word.”

Hishoono het beweer daar is ’n gebrek aan duidelikheid in die verkiesingswysigingswet oor uitslae wat betwis word.

“Wat sê daardie wet oor betwiste uitslae? Soveel as wat ek daaraan wil voldoen, kan ek nie, want die verkiesingsuitslag word uitgedaag.”



SWAPO-LEDE BEDANK

Daarenteen het Swapo-lede soos dr. Elijah Ngurare, Willem Amutenya en Sharonice Busch uit hul staatsdiensposte bedank om te voldoen aan artikel 77 van die gewysigde kieswet.

Hierdie wysiging bepaal dat staatsamptenare wat tot die parlement verkies word, outomaties moet bedank sodra verkiesingsuitslae bevestig is.

Ngurare en Amutenya het vandeesweek die ongelykheid gekritiseer aangesien hulle moes bedank terwyl ander dit nie gedoen het nie. Hulle meen dit is onregverdig dat sommige kan voortgaan om salarisse te verdien terwyl hulle wag tot die hofsaak afgehandel is.

Nashinge het gesê diegene wat bedank het, het dit gedoen weens hul eie “arrogansie”.



WET

Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) en die Staatsdienskommissie het beide die wet se duidelikheid herhaal en die implementering daarvan beklemtoon ondanks voortdurende regsuitdagings.

“Die wet moet geïmplementeer word soos dit is tot die uitdaging ’n uitwerking het. Die oomblik toe jy ’n setel in die parlement gewen het, of jy jou bedanking ingedien het of nie, moet jou werkgewer ophou om jou ’n salaris te betaal,” het die ECN se senior regsadviseur, Alpheus Haufiku, gesê.

Salmaan Jacobs, die voorsitter van die Staatsdienskommissie, het bygevoeg: “Die wet is baie duidelik. Werkgewers moet implementeer wat die wet sê sonder dat dit nodig is dat die Staatsdienskommissie dit afdwing.”



WERKGEWERS REAGEER

Sommige ministeries het ingevolge die wet opgetree en betalings aan die betrokke werknemers gestaak. Ander ministeries soos dié van inligting en onderwys, wag egter vir verdere duidelikheid of het dit aan die betrokke individue oorgelaat.

Die uitvoerende direkteur van die inligtingsministerie, Audrin Mathe, het gesê hy is steeds met verlof en sal eers na Nashinge se situasie kyk wanneer hy terug is.

Intussen het Sanet Steenkamp, die uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, gesê die onus om aan die kieswet te voldoen, rus op individue wat tot die parlement verkies is.

“Elke verantwoordelike volwassene weet waarvoor hulle ingeskryf het. Ek verstaan nie hoe my kantoor betrokke is by die versekering van voldoening aan die wet nie,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 30° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 19° | 34° Oshakati: 21° | 33° Ruacana: 17° | 34° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 15° | 32° Windhoek: 17° | 30° Gobabis: 21° | 32° Henties Bay: 16° | 19° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 14° | 29° Aranos: 20° | 31° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 15° | 29° Oranjemund: 15° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 16° | 29° Maseru: 13° | 30° Antananarivo: 17° | 26° Lilongwe: 21° | 29° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 17° | 30° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 25° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 27° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!