Die voormalige burgemeester van Windhoek, mnr. Job Amupanda. Foto argief
Die voormalige burgemeester van Windhoek, mnr. Job Amupanda. Foto argief

Amupanda laat aap uit mou oor ‘Progressive Forces’

Windhoek se huidige burgemeester het, na wat verneem word, formeel geëis dat haar voorganger bewyse van sy aansprake lewer.
Jemima Beukes
Windhoek se voormalige burgemeester, dr. Job Amupanda, het verklap hoe dié munisipaliteit (CoW) se bestuurskomitee – onder die politieke alliansie aan bewind – na bewering die aanstelling van die stadsraad se uitvoerende hoof gestuit het omdat die verkiesbare kandidate as Swapo-lede beskou is.

Amupanda – wie se Affirmative Repositioning (AR)-beweging deel was van die Progressive Forces, wat intussen ontbind het – het sy eweknieë op die raad onkant gevang toe hy op ’n vergadering verlede maand opgestaan en beweer het daar was ’n gesamentlike besluit om te keer dat die vyf kandidate op die kortlys in die pos van uitvoerende hoof aangestel word weens hul beweerde Swapo-bande.

Die Progressive Forces het uit die IPC, Nudo, PDM en die AR bestaan.

IPC, PDM en Nudo het almal Amupanda se aantyging ontken en die nuwe burgemeester, me. Sade Gawanas, het glo formeel geëis dat haar voorganger bewyse van sy uitlatings moet lewer.

Die kortlyskandidate was mnre. Conrad Lutombi, Moses Matyayi en Eino Mvula en mee. Joyce Mukubi en Charmill Zamuee. Hul onderhoude was in Oktober 2021, maar tot nou is niemand aangestel nie. CoW is al twee jaar sonder ’n uitvoerende hoof.

Opposisiepartye het Swapo jare lank daarvan beskuldig dat hy tegnokrate vervreem wat nie aan dié party behoort nie.

’n Spesiale in camera-vergadering tussen Amupanda en die stadsraad is glo gister gehou, maar die uitslag was teen druktyd nie bekend nie.

‘KORRUPTE BEDRYWIGHEDE’

Bronne in die munisipaliteit het dié week aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê Amupanda het op die raadsitting van 12 April gesê: “Ek wil op rekord wees as ek sê die rede hoekom ons niemand aangestel het nie, is omdat die kandidate op die kortlys as Swapo-bondgenote beskou word.”

Amupanda het glo boodskappe van ’n WhatsApp-groep genaamd “MC PF” voorgelees om sy bewerings te staaf.

Die MC PF is ’n groep wat bestaan uit alle partye wat deel van die vorige Stadskoalisie gevorm het.

Amupanda het glo beweer daar was duidelike manipulering van die werwingsproses van die CoW se uitvoerende hoof, en bygevoeg sy gewete laat hom nie toe om hom by korrupte bedrywighede te skaar nie.

Met die raad wat gister die aanstelling van ’n uitvoerende hoof by ’n spesiale raadsvergadering sou bespreek, sal die tyd leer of Amupanda sy aansprake met bewyse sal staaf. Hy het beloof om sy bewyse skriftelik en konkreet te staaf.

“Ek het in die vergadering gesê ek wil nie deel van korrupsie wees nie. ’n Paar flou redes, soos grammatika, is aangevoer. Daar is eintlik geen rede hoekom dit nie kan aangaan nie, terwyl ons vir seker weet wat die redes is – dis omdat hulle sê die kandidate is van Swapo,” het hy Maandag gesê.

“Die gesprek in die algemeen was dat die koalisie hul eie kandidaat moet kry, so hulle wil die werwingsproses van voor af begin. Ek kan nie deel hiervan wees nie. IPC probeer mense manipuleer.”

‘ONSTABIEL’

Die stad se adjunkburgemeester, mnr. Joseph Uapingene, het gesê dis jammer Amupanda verklap geheime noudat hy “buite die huwelik” is en het hom beskuldig dat hy die reëls van politiek verontagsaam deur die koalisiekoukus te minag.

Uapingene het wel bevestig hulle wil die proses van voor af begin, maar nie om die beweerde redes nie.

“Dat ons ons eie kandidaat het, is pure leuens. Vir ons is die proses nie regverdig uitgevoer nie en dis al, maar die saak is steeds by die bestuurskomitee en die raad. Ek kan nie hierop uitbrei voordat dit afgehandel is nie,” het hy gesê.

Die PDM-leier mnr. McHenry Venaani het gesê: “Die PDM is nie meer deel van die Windhoek-munisipaliteit se bestuurskomitee nie en ons wens is dat die beste kandidaat gewerf word, ongeag aan watter party die persoon verbonde is.”

Me. Ndeshihafela Larandja, voorsitter van die bestuurskomitee, het bygevoeg raadspersoneelsake is vertroulik en dit sal oneties wees om werwingsake van enige personeellid met die publiek te bespreek.

Larandja, wat aan die IPC verbonde is, is een van diegene wat daarop aandring dat die keuringsproses van voor af moet begin. Tydens die omstrede raadsvergadering het sy glo aan haar kollegas gesê, “oor my dooie liggaam, hierdie proses moet weer begin”.

Die IPC, wat sedert die begin van die werwingsproses die bestuurskomitee lei, het sedertdien ’n ommeswaai gemaak deur die einste proses waarvan hulle aan die spits was, te kritiseer.

Die belangrikste redes vir dié veranderde gesindheid is dat die IPC gemeen het die destydse waarnemende uitvoerende hoof, mnr. George Mayumbelo, was nie veronderstel om deel van die kortlyskomitee te vorm nie.

Vrae is ook geopper oor waarom mnr. Archie Nikanor, waarnemende hoof van die departement van menslike kapitaal en korporatiewe dienste, nie deel van die komitee was nie.

Die bestuurskomitee het nóg ’n rooi vlag opgesteek: “Iets klop nie met die kandidate wat aansoek gedoen het nie. Die langlys applikante wat die departement van menslike kapitaal en korporatiewe dienste verskaf het, het op 61 aansoeke gedui, terwyl net vyf van die 25 wat aan die vereistes voldoen het, op die kortlys geplaas is. Dit terwyl die langlys ter sprake op 68 kandidate dui.”

By navraag oor die beweerde politieke nepotisme, het die Swapo-hoofsweep by CoW, me. Queen Kamati, gesê: “Ek kan nie kommentaar oor hierdie aangeleentheid lewer nie, want dis nog onder raadsoorweging.”

Sy het bygevoeg: “As Swapo glo ons alle Namibiërs, ongeag hul politieke bande, moet gelyke toegang tot geleenthede geniet.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!