DEPARTED: Former statesman Hage Geingob, and slain Swapo politician Anton Lubowski.
DEPARTED: Former statesman Hage Geingob, and slain Swapo politician Anton Lubowski.

‘Antwoorde sterf saam met Geingob’

Lubowski-familie hard getref
Anton Lubowski se familie het gehoop president Hage Geingob kon lig werp oor sy laaste ontmoeting met hom die aand van sy sluipmoord.
Ogone Tlhage
Die weduwee van die vermoorde politikus Anton Lubowski, Gabrielle, sê die dood van president Hage Geingob het alle hoop laat verdwyn dat sy familie geregtigheid vir sy sluipmoord sal kry.

Lubowski wat ’n prominente regspraktisyn en Swapo-lid was, is die aand van 12 September 1989 vermoor. Die 37-jarige Lubowski is voor sy huis in Windhoek met ’n AK-47 outomatiese geweer doodgeskiet.

Sy familie het gehoop dat hulle Geingob vanjaar kan ontmoet om meer uit te vind oor die besonderhede van sy laaste ontmoeting met Lubowski die aand van sy sluipmoord.

“Ons was so seker dat ons hom in 2024 gaan ontmoet en dat hy uiteindelik met ons sou deel wat so belangrik was dat hy en Anton sonder lyfwagte in die destydse Kaiserstraat (nou Onafhanklikheidsrylaan) moes gaan stap sodat niemand die gesprek kon afluister nie,” sê Gabrielle.

Lubowski het Geingob die aand van sy dood vir ete ontmoet. In ’n ope brief aan die ontslape president in 2019 het sy aan hom gevra wat so sensitief was dat hulle nie eers in ’n veilige ruimte kon gaan sit nie.

“Jy was die laaste persoon met wie Anton gepraat het. Hy het inligting met jou gedeel wat so sensitief was dat die twee van julle nie eens kon gaan sit vir ’n koppie koffie nie. ’n Paar uur later was Anton dood,” skryf sy in die brief.

Volgens Gabrielle het die nuus van Geingob se dood op 4 Februarie die familie hard getref.

“Die nuus van president Geingob se dood het ons hard getref. Dit was soos ’n hou in die maag, ons was diep ontsteld en tranerig.”

Die langverwagte gesprek met Geingob sou ’n einde bring aan die geheimsinnigheid wat Anton se dood omhul, sê Gabrielle.

“Ons wou nie net die inhoud van daardie gesprek weet nie, maar het ook die begeerte gehad vir die aanvaarding en erkenning van al die pyn, trauma, teistering en verwerping wat ons moes verduur het. Net Geingob sou ons gemoedsrus kon gee en ons waardigheid herstel en die nalatenskap met trots dra.”

Die familie moet nou egter aanvaar dat hulle ná Geingob se dood nooit die waarheid sal weet nie.

“Net God kan ons nou troos. Ons moet aanvaar dat ’n ontmoeting van vrede, vergifnis en versoening vir altyd buite bereik is,” het sy gesê.

Geingob het oor die jare enige betrokkenheid by Lubowski se moord ontken. In ’n brief aan sy vrou het die ontslape staatshoof by monde van sy prokureur Sisa Namandje haar bewerings as absurd beskryf.

“Jou beweringe is absurd en vreemd. Ten spyte van die feit dat die koelbloedige moord van Anton Lubowski die fokus van ’n polisieondersoek (en waartydens vereis is dat almal, insluitend jy, die polisie met inligting help) en ’n openbare hoërhofondersoek was, maak jy eers byna 30 jaar later roekelose beweringe,” het hy gesê.

Die Ierse burger Donald Acheson wat oorweldigende bewyse teen hom as die beweerde sluipmoordenaar gehad het, is ná agt maande in aanhouding in Suid-Afrika vrygelaat. Geen poging is ooit aangewend om Acheson aan Namibië uit te lewer om hier verhoor te word nie. Hy is in 1991 na Ierland gedeporteer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!