AR dien wetsontwerp op grondbesit in
‘Verbied buitelanders om grond te besit’
Tydens 'n openbare sitting is 'n konsepwetsontwerp bespreek waarvolgens buitelanders van hul landbougrond in Namibië onteien kan word, behalwe as hulle vennootskappe aangaan waar Namibiërs of die staat die meerderheid daarvan besit.
Die AR stel in ’n konsepwetsontwerp voor dat buitelandse burgers verbied word om grond in Namibië te besit, en slegs onder sekere omstandighede toegelaat word om die grond te benut.
Die staande komitee oor natuurlike hulpbronne het die afgelope Dinsdag ’n openbare sitting met die Affirmative Repositioning (AR) in die Nasionale Vergadering gehou oor ’n versoekskrif vir die regulering van grondbesit deur buitelanders in Namibië.
Die AR het die versoekskrif reeds op 18 Maart 2019 ingedien, maar weens onder meer Covid-19-inperkings kon die sitting nie vroeër plaasvind nie. Die versoekskrif is in die vorm van ’n wetsontwerp ter tafel gelê.
Hierdie is die eerste sitting wat die klagskrif bespreek en opvolgvergaderings met ander belangegroepe sal in die komende weke gehou word.
VOORSTELLE
Tydens die geleentheid het die AR se hoof van regsake, mnr. Kavetu Stanley, gesê in die voorgestelde wetsontwerp word voorsiening gemaak vir buitelandse burgers om grond vir ekonomiese ontwikkelingsdoeleindes van Namibiese burgers of die staat te huur – maar nie vir langer as tien jaar nie. Huurooreenkomste kan egter altyd hernu word.
Dit moet ook in vennootskap met Namibiese burgers gedoen word, waarvan die Namibiër nie minder as 51%-eienaarskap mag hê nie.
Stanley het verduidelik wanneer ’n buitelander onder meer grond wil huur en ‘n fabriek wil bou, moet ’n Namibiër 51% van die ekonomiese ontwikkeling besit.
Hy sê om te keer dat prokureurs dié tipe ooreenkomste tot nadeel van Namibiërs opstel, kan sulke ooreenkomste slegs aangegaan word nadat ‘n aansoek by die kabinet ingedien is.
In die wetsontwerp word verder gesê die parlement moet ook die aansoek daarna goedkeur.
Stanley meen dit sal help om te keer dat ’n geknoeiery ontstaan om grond aan buitelanders te verhuur, soos volgens hom gebeur het met die verhuring van grond aan die Russiese oligarg en grondbaron, mnr. Rashid Sardarov.
Hulle sê ook huurooreenkomste van 99 jaar moet afgeskaf word.
GROND REEDS BESIT
Die tweede deel van die wetsontwerp maak voorsiening vir hoe daar te werk gegaan moet word in gevalle waar buitelanders oor grond in dorpe, landbougrond of kommunale grond beskik.
Hulle stel voor in gevalle waar buitelanders grond wettig in dorpsgebiede besit, dit hul eiendom moet bly, mits dit nie weer aan ‘n buitelandse burger verkoop of oorgedra word nie; slegs aan ‘n Namibiër of die Namibiese regering.
Kommersiële landbougrond wat buitelandse burgers besit, moet egter binne drie jaar ná die bekragtiging van die wet deur die regering onteien word, meen die AR.
“Buitelanders wat egter ‘n vennootskap met Namibiërs aangaan ná die inwerkingstelling van die wet en minstens 51% van sy eienaarskap aan ‘n Namibiër afstaan wat voorheen benadeel was, sal nie aan die onteiening onderwerp word nie,” het Stanley gesê.
Hy sê in die geval van kommunale grond, wat onder die kommunale grondhervormingswet val, mag dit geensins deur buitelanders benut word nie. “As ‘n buitelander sit jy nooit jou voete op kommunale grond nie, nie eens om dit te benut nie.
“Enige toekenning van kommunale grond aan buitelanders sal as ‘n onwettige ooreenkoms beskou word en verwerp word.
“As jy dus ‘n Chinese burger is wat tans grond in Okongo besit, stel ons voor dat jy die grond met die instelling van die wet afstaan.”
As dit in openbare belang is of in belang vir die implementering van dié wetsontwerp, sal die staat egter ook die grond van buitelandse burgers in dorpsgebiede kan onteien, het Stanley gesê.
Stanley sê, soos in Nieu-Seeland, jaag buitelanders pryse in die eindomsmark op tot op vlakke waar Namibiërs dit nie meer kan bekostig nie – slegs buitelanders.
“Namibiërs sal dus aanhou om huise van buitelanders te huur,” het hy gesê.
Stanley sê kommersiële landbou se Grondhervormingswet no. 6 van 1995, plaas reeds ’n verbod op buitelandse eienaarskap van landbougrond.
“Ons vra dus nie dat die komitee of die parlement hulle tot iets onwettigs of iets nuuts verbind nie,” het hy gesê en genoem dat landbougrond ook, met regverdige vergoeding, onteien kan word.”
VINNIGE OORWINNING
Amupanda meen hierdie kan ‘n vinnige oorwinning in die grondkwessie wees, aangesien buitelanders altesaam sowat 1,2 miljoen hektaar landbougrond in Namibië besit. Dit sluit in Duitsers, Amerikaners, Suid-Afrikaners, Oostenrykers, Switsers en Chinese.
“Die Grondwet bepaal dat enige een grond in die land kan besit – die persoon hoef nie ’n Namibiese burger te wees nie. Daar word egter bygevoeg dat die parlement dié tipe eienaarskap deur wetgewing kan reguleer of verbied as dit by buitelanders kom.
“Dié klousule bied ons dus die geleentheid om buitelanders se eienaarskap te reguleer. Ons hoef nie die Grondwet te verander nie, maar as parlementslede kan julle ons mense bevry en wetlik beskerm,” het hy gesê.
Hy het die geskiedenis van “sistematiese grondonteiening” tydens die geleentheid aangehaal.
“Ons weet die vryheidstryd was vir grond en dié stryd is onvoltooid,” het hy bygevoeg. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie