AR nie haastig om partye se hofaansoek te steun

Verkiesingsuitslae sal uitgedaag word
Verskeie politieke partye span hul kragte saam om 'n hofaansoek aanhangig te maak om die verkiesingsuitslae nietig te laat verklaar.
Iréne-Mari van der Walt
Terwyl verskeie opposisiepartye hul steun te kenne gegee het vir ’n hofaansoek om die nasionale verkiesing nietig te laat verklaar, sê die Affirmative Repositioning (AR) se presidensiële kandidaat, Job Amupanda, dat dié party nie oorgretig is om by hierdie aansoek aan te sluit nie.

Die Independent Patriots for Change (IPC) het Sondagaand aangekondig dat dié party met die steun van onder meer die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF), die Republican Party (RP) en die Popular Democratic Movement (PDM), ’n hofaansoek sal bring om die verkiesingsuitslae nietig te laat verklaar.

“Dit gaan nie oor enige politieke party of enige individu nie – dit gaan in beginsel oor die behoud van ons demokrasie,” het die IPC se presidensiële kandidaat, Panduleni Itula, tydens die aankondiging gesê.

“Ek dink hierdie is ’n baie spesiale oomblik in ons land se geskiedenis – ons het voorheen verkiesingsuitslae uitgedaag – hierdie keer is ons verenig, wat ek dink uiters belangrik is.

“Ek dink die uitdaging (van die verkiesing) in die hof is seker een van die belangrikste projekte ooit in ons land. Ons kan nie toelaat dat wat met hierdie verkiesing gebeur het, weer gebeur nie.

“Ek dink die nasie het vir ons gewys dat hulle baie ontevrede is. Dit is nie die beste wat ons kan doen nie – maar wat ons as julle leiers moet doen – is om te verseker dat dit nooit weer in hierdie land gebeur nie,” het die RP se presidentskandidaat, Henk Mudge, by die aankondiging gesê.

“Ons staan vir demokrasie vir die Namibiese mense en hoe hierdie verkiesing verloop het, wys vir ons dat daar nie net met die huidige generasie nie, maar met toekomstige generasies se demokrasie gespeel is.

“Ons sal nie net staan en toekyk terwyl so iets gebeur nie, want ons is hier vir die Namibiese mense,” het NEFF se nasionale woordvoerder, Teresia Hamurenge, gesê.

“Vir ons gaan dit nie oor wie groter of kleiner is nie – dit gaan oor ons land. Dit gaan oor ’n land wat vir almal moet werk; vir die rykes en die armes.

“Ons het reeds gesien hoe howe in ander lande soos Kenia en Malawi verkiesings nietig verklaar en as jy die wanbestuur in daardie verkiesings vergelyk met die wanbestuur in hierdie verkiesing, is hierdie een baie erger,” het die PDM se presidentskandidaat, McHenry Venaani, gesê.



MEDIAKONFERENSIE

Amupanda het egter Maandag tydens ’n mediakonferensie gesê, hoewel die AR met die ander partye saamstem dat die nasionale verkiesing glo nie vry en regverdig was nie, is hulle nie haastig om by die groep opposisiepartye aan te sluit nie.

“Ons is baie bly dat mense hierdie (verkiesing) uitdaag. As jy kyk na vorige uitsprake in die hof oor verkiesings, word die ECN gedurig getugtig, maar tog verander niks nie,” het Amupanda gesê.

Hy verduidelik dat die AR glo dat die verlenging van die verkiesing teenstrydig is met die bepalings van die kieswet en hy sê dat die AR eers moet seker maak dat die versoeke in die ander partye se hofaansoek strook met wat die AR glo.

“Ons neem onsself baie ernstig op. Ons reageer nie op SMS’e wat ons nooi om vyfuur by KFC te ontmoet nie,” het hy gesê.

Amupanda het ook aangevoer dat Swapo se presidentskandidaat, Netumbo Nandi-Ndaitwah, nie noodwendig in beheer by die party is nie.

“Daar is ’n finansiële faksie (cabal) in beheer. Miskien dink hulle omdat sy ouer is en sy moeg is, sal dit hulle meer geleentheid gee om te plunder,” het hy gesê.

Oor beweerde onderduimse bande tussen Swapo en die regerende party van Zimbabwe, Zanu-PF, het Amupanda gesê dit sal hartseer wees as die party wat vryheid na Namibië gebring het, die soewereiniteit van die land aan ’n ander land sou oorgee.

Hoewel Venaani tydens die aankondiging gesê het dat verskeie partye, insluitend diegene wat nie teenwoordig was nie, hul steun uitgespreek het, kon die woordvoerder van die IPC, Imms Nashinge, nie teen druktyd bevestig watter partye deel van dié aksie sal vorm nie.

Nashinge het egter aan Network Media Hub (NMH) gesê dié aansoek sal gebring word nadat die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) die finale amptelik verkiesingsuitslae bekend gemaak het.

#NamibiaDecides2024

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 42° Rundu: 21° | 37° Eenhana: 20° | 37° Oshakati: 23° | 36° Ruacana: 18° | 37° Tsumeb: 22° | 37° Otjiwarongo: 18° | 34° Omaruru: 17° | 35° Windhoek: 17° | 32° Gobabis: 19° | 34° Henties Bay: 15° | 20° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 16° | 34° Mariental: 18° | 34° Keetmanshoop: 16° | 32° Aranos: 18° | 34° Lüderitz: 15° | 25° Ariamsvlei: 17° | 31° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 25° | 39° Lubumbashi: 16° | 33° Mbabane: 18° | 37° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 41° Windhoek: 17° | 32° Cape Town: 17° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 21° | 32° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 37° Harare: 19° | 34° #REF! #REF!