Anton Katz, die Independent Patriots for Change (IPC) se regsverteenwoordiger. Foto Jemima Beukes
Anton Katz, die Independent Patriots for Change (IPC) se regsverteenwoordiger. Foto Jemima Beukes

Hooggeregshof moet eers beslis, sê Katz

Jemima Beukes
Die verkiesingsgeskil het gister in die kieshof voortgeduur met die Independent Patriots for Change (IPC) wat aangevoer het dat dié hof nie homself moet uitspreek oor die geldigheid van die presidensiële proklamasie om verkiesings te verleng voor die hooggeregshof nie uitspraak gelewer het nie.

Die IPC se regsverteenwoordiger, senior advokaat Anton Katz, meen dit sal lei tot ’n "chaotiese heen en weer" tussen die twee howe.

Dit volg nadat die kieshof alle betrokke partye gevra het om te verduidelik waarom die saak nie uitgestel moet word tot die hooggeregshof sy uitspraak oor die uitdaging van die presidensiële verkiesing lewer nie.

Katz meen dit maak logieserwys sin dat die hooggeregshof, die hoogste hof in die land, eerste moet beslis. Hy meen dit maak geen sin dat die verkiesingsgeskil oor die Nasionale Vergadering (NV) in die kieshof aangehoor word voor die uitspraak van die hooggeregshof gelewer is nie.

Hy voer aan dat die hooggeregshof moet beslis oor die wettigheid van president Nangolo Mbumba se proklamasie om die verkiesing in November te verleng.

“Kom ons neem aan dat hierdie hof ons vandag hoor en dit vind dat die proklamasie goed of sleg was?

“Dieselfde argument sal op 10 Februarie in die hooggeregshof aangehoor word. Wat sou die status van hierdie hof se bevel dan wees? Dit [kieshof] sou wetlik ’n soort swart gat wees,” het hy verduidelik.

Op 29 November 2024 het Mbumba beide die presidensiële en NV-verkiesings verleng tot ’n tweede dag weens ’n tekort aan stembriewe en ander tegniese uitdagings.

Die IPC – wat hierdie saak in die kieshof gebring het en ook die presidensiële verkiesing in die hooggeregshof betwis – beweer Mbumba het teenstrydig met die Namibiese Grondwet opgetree.

Katz het beklemtoon dat die stuiting (stay) van die saak ’n logiese roete is omdat die kieshof die finale geldigheid van die proklamasie moet ken om sin te maak van enige gevolglike verligting.

“Ons stel voor op grond van die feite en omstandighede van hierdie saak dat dit gepas sal wees om dit te stuit.

“Ons weet nie hoe die partye op die uitspraak van die hooggeregshof gaan reageer nie. Die hooggeregshof kan die aansoek gedeeltelik of in sy geheel laat slaag.

“Daar is ’n hele reeks moontlikhede wat uit die uitspraak van die hooggeregshof kan voortspruit wat partye hier in hierdie hof sal moet opper.”



TEENKANTING

Swapo, die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) en Mbumba was sterk daarteen gekant dat die saak uitgestel moet word.

Katz meen dit is “bisar” dat hulle die aansoek om uitstel, wat in die belang van die hof gebring is, teenstaan.

“Hoekom stel hulle belang om die stuiting teen te staan, daar moet een of ander vreemde rede daarvoor wees. Wanneer ’n respondent ’n uitstel wat deur die hof voorgestel word teenstaan, moet daar een of ander rede wees.”

Sisa Namandje, wat Swapo verteenwoordig, het aangevoer dat die uitslag nie anders sal wees nie, want die IPC het “’n geharde en onversetlike posisie” teenoor die presidensiële en NV-verkiesing se uitslae ingeneem.

Hy het beklemtoon dat Swapo wil hê die hof moet doen wat hy moet, naamlik om te beoordeel (adjudicate).



LAND SE REPUTASIE

Advokaat Raymond Heathcote wat namens Mbumba opgetree het, het die twee politieke partye daarvan beskuldig dat hulle probeer om Namibië se reputasie te skaad.

Hy het beweer hul optrede is daarop gemik om die land se naam “oor die heuwels en die strande van Walvisbaai en valleie van Helmeringhausen” te sleep.

Heathcote het volgehou dat die uitstel van die verrigtinge onnodig en nadelig is en het die IPC wat die uitstel ondersteun het, daarvan beskuldig dat die party die regstelsel uitgebuit het om die saak te verleng en Namibië se demokratiese beeld te ondermyn.

Die aangeleentheid is tot Maandag 20 Januarie uitgestel wanneer die kieshof sy uitspraak sal lewer oor of ’n uitstel toegestaan sal word of nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!