IPC behou setel in Erongostreeksraad

Politieke balans gehandhaaf
Swakopmund se burgemeester en lid van die Independent Patriots for Change (IPC) is dié kiesafdeling se nuwe raadslid vir die Erongostreeksraad.
Adam Hartman
Adam Hartman - Die Independent Patriots for Change (IPC) het die politieke balans binne die Erongostreeksraad behou, nadat sy kandidaat, me. Louisa Kativa, die Swakopmund-kiesafdeling se tussenverkiesing gewen het. Uit die 9 918 stemme wat uitgebring is, het Kativa 3 625 stemme gekry. Haar naaste teenstander was Swapo se mnr. Nehemiah Solomon met 3 122 stemme. Die Landless People's Movement se kandidaat, mnr. Tangeni Musheko was derde met 1 362 stemme. In die vierde plek was Popular Democratic Movement se kandidaat, me. Leigh Pascheka met 672 stemme, gevolg deur United Democratic Front (Zerolda Dantu) met 465 stemme. Die sesde en sewende plekke is met net twee stemme geskei, met Bernhard von Seydlitz-Kurzbach van die United People's Movement met 309 stemme en Namibia Economic Freedom Fighters wat 307 stemmel behaal het. Die enigste onafhanklike kandidaat, mnr. Williward Narib, was laaste op die lys met 56 stemme wat ook gelyk was met die aantal stemme wat verwerp is.

Hoewel 'n swak opkoms van kiesers histories vir tussenverkiesings aanvaar word en ten spyte van intensiewe bemarking en onderrig deur die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), sowel as 'n oproep deur die goewerneur van Erongo, mnr. Neville André, dat mense in hul honderde hul kruisies moet gaan trek, het net 'n kwart van die 37 000 geregistreerde kiesers by die 29 kiesstasies hul stemme uitgebring. Die nuwe raadslid is in die plek van die IPC se me. Ciske Howard wie se verteenwoordiging van die party in die kiesafdeling in Mei beëindig is.

Mnr. Amos Nguaiko het Saterdag omstreeks 03:30 amptelik verklaar "Louisa Kativa is amptelik as die wenner van die Swakopmund-kiesafdeling sy tussenverkiesing aangewys".

Die Swakopmundse burgemeester se wen verseker dat IPC se setel wat verlore was met die vertrek van Smith-Howard, weer herstel is. Laasgenoemde het Swapo 'n drie tot twee meerderheid in die raad met sewe setels gegee. Die huidige raad sluit in Kativa (IPC - Swakopmund); Florian Donatus (IPC - Walvisbaai - landelik); Deriou Benson (IPC - Walvisbaai - stedelik); Melania Ndjago (Swapo - Karibib); Ernest Wetha (Swapo - Omaruru); Benitha Imbamba (Swapo - Arandis) en Kennedy !Haoseb (UDF - Daures).

Buiten vir meganiese kwessies met die lees van nuwe en duplikaatkaarte wat toe met die hand geverifieer is, is daar geen onmiddellike probleme by enige van die kiesafdelings deur ECN-beamptes of waarnemers aangemeld nie.

Redes vir die swak opkoms van kiesers het gewissel van dit was nie 'n openbare vakansiedag nie en mense het minder geleentheid gehad om te stem, tot apatie van kiesers, met ander wat voel 'n tussenverkiesing is nie so belangrik nie en hul stem sou geen verskil gemaak het nie.

Kativa wou nie enige beloftes maak oor wat sy eerste gaan aanpak in haar nuwe amp nie. Sy het egter die kiesers bedank vir hul vertroue in haar en het die versekering gegee dat sy nie kwessies in die kiesafdeling alleen gaan hanteer nie, maar met die hulp van die gemeenskap, sowel as ander lede van die raad.

"Saam kan ons 'n verskil maak," het sy gesê.

Haar pos as burgemeester van die vakansiedorp sal na verwagting gevul word wanneer die munisipale raad 'n verkiesing hou.

IPC se visepresident, mnr. Trevino Forbes, sê Swakopmund se kiesers het besluit en dit is 'n teken die party gaan die nasionale en presidensiële verkiesings in 2024 wen.

"Dit het gewys die IPC is groter as enige individu, wie jy ook al is, en dat ons gereed is om in 2024 die nasionale regering oor te neem. Die mense het gepraat en ons gekies omdat hulle moeg is van die manier hoe dinge in hierdie land gedoen word. Die IPC is die enigste politieke party wat 'n werktuig vir daardie verandering kan wees," het hy gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!