MARCHING ORDERS: Ciske Smith-Howard was expelled from IPC on Monday. Photo: File
MARCHING ORDERS: Ciske Smith-Howard was expelled from IPC on Monday. Photo: File

IPC gee Smith-Howard die trekpas

Tussenverkiesing lê voor vir Swakopmund
Me. Ciske Smith-Howard is vroeër vandeesmaand ingelig dat sy tot 13 Mei kans het om uit haar pos as raadslid te bedank, anders sou die party haar afdank.
Erwin Leuschner
“Natuurlik is dit nie lekker om onregverdig afgedank te word nie, maar ek is nie verras oor die besluit nie,” het die Independent Patriots for Change (IPC)-raadslid vir die Swakopmund-kiesafdeling, me. Ciske Smith-Howard, Dinsdag gesê.

Sy het nie verklap of sy haar tot die hof sou wend om die party se besluit om haar lidmaatskap “met onmiddellike effek” te beëindig, te betwis nie en het bloot gesê sy is “tans in gesprek met my regspan”.

Luidens ’n brief deur die party se nasionale sekretaris-generaal, me. Christine !Aochamus, het Smith-Howard “met onmiddellike effek nie meer enige wettige basis om in enige hoedanigheid as IPC-streekraadslid te dien nie”.

!Aochamus het die streekpolitikus ook gevra om alle partyeiendom, insluitend haar lidmaatskapkaart, te oorhandig.

Smith-Howard is vroeër vandeesmaand ingelig dat sy tot 13 Mei kans het om uit haar pos as raadslid te bedank, anders sou die party haar afdank. Hierdie opdrag, het !Aochamus gesê, het Smith-Howard geïgnoreer.

“Die party se bestuurskomitee het besluit om die laaste deel van die versoeningskomitee se aanbeveling in werking te stel, gegewe jou weiering om afstand te doen van jou posisie in die streekraad,” lui die brief. Volgens die brief het sy ook ‘n “breuk in die verhouding” met die partyleierskap veroorsaak.

SWYGSAAM

Smith-Howard is benoem as IPC-kandidaat vir die Swakopmund-kiesafdeling en het die verkiesing laat in 2020 oortuigend gewen. Noudat sy uit die party geskors is, vereis die streekraadswet dat ‘n tussenverkiesing binne drie maande gehou moet word om die pos te vul.

Smith-Howard wou nie vandeesweek verklap of sy aan die verkiesing gaan deelneem nie, hetsy as ‘n onafhanklike kandidaat of as lid van ‘n ander party.

“Ek het baie idees en planne vir my ampstermyn gehad en dit is jammer ek kon nie alles bereik wat ek voorgeneem het om te doen nie,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg: “Ek staan steeds by my besluite en optrede, want ek het van die begin af gesê ek sal my uitspreek teen dinge wat nie reg is nie.”

DIE UITVAL

Die IPC het Smith-Howard oorspronklik in Oktober 2021 uit haar kantoor weggehou en haar “beperk” ná ‘n uitval oor die kiesafdeling waarin sy woonagtig was.

Ná ’n interne ondersoek is verskeie aanklagte teen haar gemaak en ‘n interne dissiplinêre proses is van stapel gestuur.

Aan die einde van Februarie het die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling en prokureur-generaal Festus Mbandeka egter aangekondig sy sal toegelaat word om haar werk as streekraadslid te hervat.

Die rede wat aangevoer is, was dat die Erongo-streekhoof en die party nie die dispuut volgens die wet hanteer het nie, het Namibia Media Holdings (NMH) destyds berig.

Smith-Howard was skaars terug op kantoor toe haar mede-IPC-raadslid, mnr. Florian Donatus, en – verrassend genoeg – die Swapo-streekraadslid, mnr. Ernest Wetha, ‘n mosie van wantroue teen haar op ‘n raadsvergadering goedgekeur het. Voordat die verkiesing kon plaasvind, het sy as voorsitter bedank en dien sedertdien as ‘n gewone raadslid. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!