WE RULE HERE: Hardap regional council chairperson Gerson Dausab. PHOTO: FILE
WE RULE HERE: Hardap regional council chairperson Gerson Dausab. PHOTO: FILE

LPM beskuldig dat hy Heldedag-vieringe saboteer

Jemima Beukes
Die regering sal nie die “sabotering" van die Heldedag-vieringe Vrydag op Mariental duld nie, sê die uitvoerende direkteur van inligting- en kommunikasietegnologie, mnr. Audrin Mathe, nadat mnr. Gerson Dausab, voorsitter van die Hardap-streekraad, al sy personeel aan die nasionale voorbereidingskomitee onttrek het.

Die Landless People's Movement (LPM) het tydens die streek- en plaaslike owerheidverkiesings in 2020 beheer van die Hardap- en ||Kharasstreek oorgeneem, voorheen vestings van die regerende Swapo-party. Die LPM voer sedertdien aan hy word deur die sentrale regering ondermyn.

Dausab het Vrydag tydens ’n nuuskonferensie die houding van die Hardap-goewerneur, mnr. Salmon April, en die uitsluiting van en minagting teenoor die plaaslike leierskap gekritiseer.

“Ek sal nie toelaat dat mense my nie in ons huis respekteer nie. Hardap is ons huis. Jy het besluit alles moet deur hierdie (sentrale) regering gaan. Ek pleit by jou, goewerneur April, om in die openbaar om verskoning te vra aan alle plaaslike owerhede, die streekraad en die tradisionele owerhede in die gees van nasiebou,” het Dausab gesê.

“Aangesien die goewerneur na die pype van pres. Hage Geingob dans, is dit miskien die president se plesier om die owerhede in die streek te minag en te ondermyn. Pres. Geingob, ek hoop nie jy ondermyn die wil van die mense deur die verkiesings wat plaasgevind het, te minag nie. Ek hoop dit is nie die geval nie, ek hoop jy is 'n ordentlike man, 'n man van integriteit en dat jy 'n leiband aan jou hond sal sit. Ons wonder ook of dit ’n slenter van die sentrale regering is,” het hy gesê.

Dausab het gesê hy het onlangs die kantoor van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling besoek waar hy adjunkminister Natalia /Goagoses, genader en glo die ministerie se uitvoerende direkteur Daniel Nghidinua, gebel het.

“Hulle het gesê hulle sal die boodskap aan die kantoor van die eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila en die ministerie van inligting(s- en kommunikasietegnologie) oordra, en ek het gehoop om ten minste deur daardie kantore gehoor te word. Net om uit te vind dat die sekretaris van die kabinet, (mnr.) George Simataa, iemand wat nie deur die mense verkies is nie, vir my 'n brief geskryf en my gevra het om met die regering saam te werk, sonder om die meriete van die saak te hanteer.

“Ek het ook 'n brief van minister Erastus Uutoni (stedelike en landelike ontwikkeling) ontvang met dieselfde frases wat Simataa gebruik het, en waarin ek gesmeek word om met die regering saam te werk,” het Dausab gesê.

Dausab sê dit is hieruit duidelik dat die streekregering, wat deur LPM gelei word, nie erken word nie en hy wonder of die sentrale regering net oor hulle kan loop.

“Die optrede van die goewerneur is 'n duidelike ondermyning, miskenning en minagting van die wil van die mense,” was sy woorde.

In 'n verklaring die naweek het Mathe daarop gewys dat die regering voortgaan met die 32ste Heldedag-viering op Mariental, met of sonder die die Hardap-streekraad se deelname.

“Die nasionale voorbereidingskomitee onder die voorsitterskap van die kabinetsekretaris, (mnr.) George Simataa, het die nodige menslike hulpbronne gemobiliseer om die besluite wat aan die Hardap-streekraad en die publiek gekommunikeer is, uit te voer.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!