Foto verskaf
Foto verskaf

LPM het emosioneel gereageer, sê profeet

Glo mense uit duisende dollars bedrieg
Volgens die LPM se woordvoerder dra die party geen kennis van hoe wyd die sogenaamde profeet se beweerde bedrog strek nie.
Iréne-Mari van der Walt
’n Storm het in die sosiale media losgebars toe die Landless People's Movement (LPM) in ’n verklaring die party van die doen en late van ene Prophet McKenzie gedistansieer het.

Volgens die LPM se woordvoerder, Eneas Emvula, dra die party geen kennis van hoe wyd die sogenaamde profeet se beweerde bedrog strek nie.

“Ons het nog nie die fyner besonderhede nie, maar die man verskyn op ons party se regalia, maar is nie ’n geregistreerde lid van die party nie,” het hy gesê.

Die gerugte lui dat Prophet McKenzie verskeie persone uit duisende Namibiese dollars bedrieg het toe hy glo aan hulle motors sou verhuur.

Dié “profeet” blyk ‘n LPM-ondersteuner te wees en talle was onder die indruk dat hy meer amptelike bande met dié party het.

Een van die individue wat onder dié sogenaamde bedrog deurgeloop het, het na aanleiding van die bogenoemde ‘n ontstoke plasing op Facebook gemaak waarin hy Prophet McKenzie oor die kole gehaal het. Op die foto wat dié plasing vergesel het, dra Prophet McKenzie ‘n hemp met die LPM-embleem op.

Prophet McKenzie het op sy beurt verduidelik dat hierdie rusie uit 'n misverstand ontstaan het. "Daar was 'n misverstand tussen my en die man, maar ons het dit uitgesorteer. Die persoon het die plasing verwyder en om verskoning gevra," het hy verduidelik.

Hy het egter aangevoer dat die LPM se reaksie nie regverdig teenoor hom is nie.

"Die LPM het vinnig en uit emosie gereageer. Hulle het my kontakbesonderhede; hulle moes my gekontak en gevra het oor die aantygings. Ek het nie geweet jy moet 'n LPM-lid wees om die LPM te ondersteun nie. Ek weet nie hoekom daardie foto gebruik is nie, miskien was dit polities gedrewe," het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer