LPM waarsku teen 'politieke chaos'

ECN sê bewerings is vals
Op die vooraand van 'n tussenverkiesing wat vandag in die Keetmanshoop landelike kiesafdeling plaasvind, het die LPM die ECN en Swapo van onreëlmatighede en stemknoeiery beskuldig.
Elvira Hattingh
Jemima Beukes – Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) sê die Landless People’s Movement (LPM) se bewerings dat die ECN “weggesteekte” stembusse ingebring het sonder politieke partye se medewete, is vals.

Die LPM-leierskap en -lede was die afgelope Vrydag glo op die oorlogspad nadat ECN-personeel stembusse afgelaai het en na bewering geweier het om die inhoud daarvan bekend te maak.

Die ECN sê egter die stembusse is vir die Keetmanshoop landelike kiesafdeling se tussenverkiesing geoormerk, wat vandag plaasvind. Dit volg ná die ontslag van die voormalige dorpsraadlid, Gerrit Witbooi, op 14 Februarie.

Die LPM het die ECN van onreëlmatighede en stemknoeiery beskuldig en beweer ook dat Swapo by die stemproses inmeng.

DUPLIKATE

Die ECN het Donderdag aangekondig dat duplikaat-kieserskaarte op 13 en 14 Mei vir geregistreerde kiesers op Keetmanshoop, Aroab en Koës uitgereik sal word.

Die LPM-leier, Bernardus Swartbooi, het in ’n video wat aanlyn versprei is, beweer sowat “120 mense” het skielik – ná die aankondiging – by die polisiekantoor opgedaag om beëdigde verklarings af te lê ten einde vir duplikaat-kieserskaarte aansoek te kan doen.

Swartbooi het beweer niemand, buiten die Swapo-party en die polisie, is geken in die besluit om ’n bykomende geleentheid te bied om duplikaat-kieserskaarte te bekom nie. Hy sê die LPM is uitgesluit in konsultasies voor dié besluit geneem is en het die duplikaat-registrasies ’n “uiters abnormale situasie” genoem.

NIE AANHITSING

Nog ’n LPM-leier, Ivan Skrywer, het beweer hulle is op die nippertjie in kennis gestel van ’n “spesiale, buitengewone reëling” vir die verkiesing en dat die registrasie van kierserskaarte nie deel van ’n normale kiesskedule is nie.

Volgens amptelike syfers is daar sowat 6 675 geregistreerde kiesers in dié kiesafdeling.

Skrywer het ook bevraagteken of daar werklik versoeke aan die ECN gerig is vir die uitreik van nuwe kaarte. Dit glo omdat sommige kiesers tydens vorige verkiesings nog buite gestaan het toe stembusse gesluit het.

“Die Swapo-raadslid Matthew Mumbala sê Swapo-lede is hierop voorberei. Ons is nie tevrede hiermee nie, want Theo Mujoro [ECN se hoofverkiesingsbeampte] kon in sy arrogansie nie antwoorde verskaf nie. Feitelike en materiële vrae wat met wetlike voorsienings te doen het, kon nie beantwoord word nie.

“Ons het reeds kontak met ons regsverteenwoordigers gemaak – dit is een uitweg. Ek is bekommerd oor wat sedert Vrydag gebeur. Hierdie is nie iets wat deur die LPM aangehits word nie,” het Skrywer gesê.

Hy het bygevoeg hy is bekommerd oor wat “mense in die strate kan doen”.

“Daar mag dalk chaos losbreek. Wat julle hier sien, is net ’n druppel in die emmer. Ons weet nie wat kan gebeur nie,” het Skrywer gesê. “As mense wat ernstig oor demokrasie en vrede is, waarsku ons die ECN dat hulle met vuur speel . . .” het hy gesê.

ECN ONTKEN

Die ECN het egter in ’n mediaverklaring gesê die LPM se bewerings is vals.

Volgens die verklaring het ECN-amptenare bloot die polisie gehelp om stembusse veilig in ’n stoorplek te plaas.

“Nog valse inligting wat die rondte in verskeie media doen, is dat die ECN beplan om nuwe kieserskaarte uit te reik. Dit is heeltemal onwaar.

“Ons gee slegs duplikaat-kieserskaarte uit aan kiesers wat reeds in Keetmanshoop se landelike kiesafdeling geregistreer is in gevalle waar kiesers se kaarte verlore of vernietig is, of om enige rede onwettig is,” is in die verklaring gesê.

Die Popular Democratic Movement (PDM) se Johannes Eiman, Swapo se Elias Kharuxab, LPM se Willem Petrus Labuschagne en Magdalena van Staden van die Independent Patriots for Change (IPM) het hulself verkiesbaar vir die tussenverkiesing gestel.

Witbooi sal as ’n onafhanklike kandidaat vir die tussenverkiesing staan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!