Namibië in rou
Mbumba ingehuldig as nuwe president
Namibië treur oor die verlies van sy derde president, dr. Hage Geingob, wat gister op die ouderdom van 82 oorlede is.
President Hage Geingob, wat ’n sleutelrol tydens Namibië se bevrydingstryd sowel as die totstandkoming van die land se eerste Grondwet gespeel het, is Sondagoggend oorlede.
Hy sou herhaaldelik ’n beroep doen op eenheid onder Afrikane en om hul verbintenis tot pan-Afrikanisme te versterk.
Hy was ook ’n voorstander vir regerings wat demokraties verkies is en sou hom voortdurend uitspreek teen staatsgrepe op die vasteland.
“Dit is met groot hartseer dat ek u meedeel ons geliefde dr. Hage G. Geingob, die president van die Republiek van Namibië, is Sondag 4 Februarie 2024 omstreeks 00:04 in die Lady Pohamba Private Hospitaal oorlede waar hy behandeling ontvang het. Aan sy sy was sy dierbare vrou, Monica Geingos, en sy kinders,” het Nangolo Mbumba, wat gistermiddag as die vierde president van Namibië ingehuldig is, gisteroggend in ’n mediaverklaring gesê.
“Sy mediese span het hul uiterste bes gedoen om te verseker dat ons president herstel nadat hy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is. Ongelukkig het president Geingob gesterf ondanks die span se moedige poging om sy lewe te red.”
“Die Namibiese nasie het ’n vooraanstaande dienaar van die mense, ’n ikoon van die bevrydingstryd, die hoofargitek van ons Grondwet en die pilaar van die Namibiese huis verloor,” het hy gesê.
NUWE PRESIDENT
Hoofregter Peter Shivute het gister net ná 15:00 Mbumba as die vierde president van Namibië ingesweer en kort daarna is Netumbo Nandi-Ndaitwah as die land se nuwe visepresident ingesweer.
“Ek aanvaar met nederigheid die edele opdrag wat aan my gegee is – die aanstelling as president van Namibië ingevolge artikel 29 saamgelees met artikel 34 van die Namibiese Grondwet,” het Mbumba ná sy inhuldiging gesê.
“Ek neem hierdie swaar mantel aan, en is bewus van die gewig van hierdie verantwoordelikheid om al die mense van Namibië met die grootste toewyding te dien. Ek onderneem om in diens van alle burgers van die Namibiese huis in die land van die dapperes, voort te gaan om die uitstekende fondament te bou wat deur ons stigterspresident Sam Nujoma, sowel as die voormalige president Hifikepunye Pohamba en ons geliefde nou wyle president Hage Geingob gelê is,” het hy gesê.
Nandi-Ndaitwah het gesê dit is ’n eer om ingesweer te word.
“Dit is met ’n gevoel van verantwoordelikheid dat ek die aanstelling aanvaar het om as die visepresident te dien. Ek wil graag Nangolo Mbumba bedank vir die vertroue wat hy in my geplaas het om saam met hom te werk terwyl ons, ons nasionale verantwoordelikheid uitvoer soos verskans in ons Grondwet.
“Ek het so pas die eed afgelê en ek sal nie veel byvoeg as om net die mense van Namibië te verseker dat ek hierdie verantwoordelikheid tot die beste van my vermoë sal uitvoer, soos duidelik in my aanstellingsbrief uiteengesit is, wat my spesifieke opdragte gee wat nie onderhandelbaar is nie.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie