Ons gaan nie die ECN blameer, sê Mbumba
Swapo ry kiesers met busse na Oshakati aan
Beide die opposisiepartye en die regerende party het die Verkiesingskommissie van Namibië gekritiseer, terwyl die IPC sê hy sal die finale uitslag verwerp.
Terwyl vroeë uitslae dui op nóg ’n oorwinning vir Swapo, het die uittredende president Nangolo Mbumba sy misnoeë uitgespreek oor die wyse waarop die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) verlede week se verkiesing behartig het.
Mbumba het kwessies uitgelig soos die tekort aan stembriewe by stemlokale, iets wat volgens hom “nie moet gebeur nie”.
Die staatshoof het egter in dieselfde asem gesê die ECN moet nie die skuld kry vir die manier waarop die verkiesing verloop het nie.
“Ons gaan hulle nie vir dit of dat blameer nie. Die werk is groter as enige instelling,” het hy gesê, sonder om uit te brei oor wie die skuld moet kry vir die chaos wat tydens die verkiesing ervaar is.
Mbumba het hierdie opmerkings gemaak tydens die Afrika-Unie se sending wat die verkiesing waargeneem het se besoek aan Staatshuis.
CHOAS
Die ECN het ’n chaotiese verkiesingsproses opgedis, wat deur ’n tekort aan stembriewe, te min stemlokale, tablette wat te warm word en swak kommunikasie met politieke partye gekenmerk is.
In Kavango-Oosstreek – wat die eerste streek was wat sy volledige uitslae bekend gemaak het – kon sowat 40% van die geregistreerde kiesers nie hul stemme uitbring nie.
Dit het daartoe gelei dat Swapo Saterdag kiesers met ’n bus vanaf Rundu na Oshakati geneem het om by die Evululuko-stempunt te stem nadat die stemproses in die Oshanastreek na Vrydag en Saterdag verleng is.
Die vervoer van hierdie kiesers het die inwoners van Oshakati ontstig wat beweer het dat Swapo hul stemlokaal doelbewus “oorstroom” het in ’n poging om die uitslae te beïnvloed. Volgens die wet kon Namibiërs op enige plek in die land hul stemme vir dié verkiesing uitbring.
SWAPO LOOP VOOR
Altesaam 34% van die stemme landswyd is teen gistermiddag getel en Swapo het met 55% voorgeloop, gevolg deur die Independent Patriots for Change (IPC) op 19%. In die derde plek was die Landless People’s Movement (LPM) met 7%.
In die vierde plek en waarskynlik die grootste verrassing in hierdie verkiesing, was die Affirmative Repositioning (AR) met 6%. Die huidige amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), is vyfde geplaas met 4%.
Dié prentjie sal na verwagting verander aangesien die meerderheid uitslae oraloor die land nog nie bekend gemaak is nie.
Slegs die Kavango-Oos- en ||Kharasstreek het hul finale uitslae ingedien. Die oorblywende 12 streke moet nog hul uitslae nagaan en bekend maak.
Met betrekking tot die presidensiële verkiesing het Swapo se Netumbo Nandi-Ndaitwah ’n gesonde voorsprong van 58%, terwyl die IPC se Panduleni Itula tweede was met 25%.
IPC VERWERP UITSLAE
Die IPC, wat blyk op grond van vroeë uitslae die amptelike opposisieparty te word, het Saterdag gesê hy sal nie die uitslae aanvaar nie.
Sy leier, Itula, het gesê stemlokale – wat volgens hom “onwettig” as stemsentrums aangewys is – verwerk stemme onder ’n sluier van onwettigheid.
“Vir die eerste keer in die geskiedenis van Namibië en moontlik in die geskiedenis van verkiesings word stemme uitgebring terwyl stemme getel en aangekondig word.
“Die stemproses is ook ontsier deur talle wie se stemreg van hulle ontneem is, met kiesers wat weggewys is weens ’n tekort aan stembriewe en brutale kiesersonderdrukking wat die stemme van Namibiërs wat na verandering smag, stilmaak.
“In die lig van hierdie ernstige onreëlmatighede, het ek met die leierskap van die IPC vergader en ons het ’n onwrikbare besluit geneem; die IPC sal nie die uitkoms van hierdie gebrekkige proses erken of aanvaar nie.
“Of die uitslae as ’n oorwinning of gelykop (runoff) of ’n verlies verklaar word, ons sal poog om hierdie verkiesing in die howe tot niet te verklaar,” het Itula gesê.
Itula het ’n beroep op Namibiërs gedoen om alle ongerymdhede wat hulle teëkom te dokumenteer vir ’n moontlike regsuitdaging.
“Deel video’s, verslae en bewyse met julle partye. Laat ons die waarheid blootlê en die integriteit van ons demokrasie herwin,” het hy gesê.
BETER VERWAG
Die akademiese en politieke ontleder Ndumba Kamwanyah het ook die wyse waarop die verkiesing gehou is, gekritiseer.
“Vanjaar se verkiesing was ’n geleentheid vir Namibië om sy demokratiese volwassenheid ten toon te stel. In plaas daarvan het die proses baie kiesers laat voel dat hul stemme onderdruk en hul vertroue verraai is.
“Die ECN se hantering van die verkiesing het skerp kritiek ontlok, nie net van opposisiepartye nie, maar van gewone burgers wat beter verwag het. Die mense verdien beter as ’n gebrekkige proses wat hulle aan die opregtheid van hul leiers laat twyfel.
“As hierdie kwessies nie getakel word nie, loop die land die risiko om in ’n toekoms in te gly waar verkiesings nie gesien word as ’n viering van demokrasie nie, maar as ’n kompetisie van wie die stelsel beter kan manipuleer. Namibië kan en moet beter doen,” het hy gesê.
‘’N KLAP IN DIE GESIG’
In ’n verklaring het die Forum van Duitssprekende Namibiërs gesê hy het met ontsteltenis toegekyk hoe gebeure op 27 November afgespeel het.
“Namibiërs is gewoond aan lang rye en is oor die algemeen geduldig. As gevolg van swak beplanning en uitvoering aan die kant van [die ECN] is hierdie geduld egter uitgebuit. Verkiesingsdag was ’n klap in die gesig van die Namibiese volk.”
“Inligting het ons bereik van kiesers wat 14 uur en langer moes wag, meestal in die son en dikwels sonder dat water of toiletgeriewe voorsien is.
“Sommige het etlike ure gereis – talle te voet – om verskeie stemlokale te probeer, net om te sien dat stembriewe opgeraak het, die elektroniese toerusting nie gewerk het of ’n mobiele stemlokaal gesluit het sonder om aandag te gee aan al die teenwoordige kiesers.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie