45 YEARS AGO: Cassinga survivor Angelina Angula shares her memories of 4 May 1978, during a Cassinga Day commemoration held at Okandjengedi in Oshana Region. PHOTO: TUYEIMO HAIDULA.  
45 YEARS AGO: Cassinga survivor Angelina Angula shares her memories of 4 May 1978, during a Cassinga Day commemoration held at Okandjengedi in Oshana Region. PHOTO: TUYEIMO HAIDULA.  

Opskudding oor president se Cassinga-uitlatings

Strydige weergawes oor kamp se doel
Midde openbare debat oor of die Cassinga-kamp slegs 'n vlugtelingkamp was en of dit ook as 'n militêre basis gedien het, sê die regerende party dat apartheidsmedepligtiges poog om Cassinga se geskiedenis te verdraai.
Ogone Tlhage,Tuyeimo Haidula,Tanja Bause
Ogone Tlhage en Tuyeimo Haidula - President Hage Geingob sê hy kon 'n slagoffer van die bloedige Cassinga-aanval in 1978 gewees het as dit nie was vir 'n vragmotorbestuurder wat geweier het om hom dae voor die aanval na die kamp te vervoer om militêre opleiding te ondergaan nie.

Geingob se boodskap op Cassingadag op 4 Mei het die tonge laat klap, veral oor sy bewerings dat hy op pad was na Cassinga om militêre opleiding te ondergaan dae voordat Suid-Afrikaanse militêre magte die kamp aangeval het.

Dit ondanks die regerende Swapo-party, waarvan Geingob die leisels hou, en oorlewendes wat volgehou het dat daar geen militêre bedrywighede by die kamp aan die gang was nie.

VERSKILLENDE SIENINGS

Kritici voer aan Geingob se opmerkings kan gesien word as 'n regverdiging vir die Suid-Afrikaanse weermag se aanval op die kamp, met laasgenoemde wat by verskeie geleenthede beweer het die terrein is nie net 'n vlugtelingkamp nie, maar ook 'n militêre fasiliteit.

Die Suid-Afrikaanse Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK), wat deur die regering van nasionale eenheid (RNE) tot stand gebring is om te help met die hantering van dít wat onder apartheid in daardie land en Namibië gebeur het, het ook bevind dit was 'n militêre opleidingskamp.

Die oggend van 4 Mei 1978 het die Suid-Afrikaanse weermag 'n lugaanval op die Cassinga-kamp naby die gelyknamige dorp Cassinga van stapel gestuur, gevolg deur 'n ontplooiing van valskermsoldate. Die kamp het Swapo-simpatiseerders en hul gesinne in ballingskap, gehuisves.

LEWE GESPAAR

In sy Cassinga-verklaring het Geingob gesê 'n verpleër, wat hy dr. Shinyafa noem, het sy lewe gered.

“In 1978, net 'n paar dae voor hierdie slagting, was ek op pad om by die kamerade by die Cassinga-opleidingsentrum aan te sluit, na aanleiding van kameraad Sam Nujoma se opdrag dat alle leiers militêre opleiding moet ontvang. Ek het van Lusaka, Zambië, na Lubango, Angola, gereis en op my geleentheid na Cassinga gewag. Een kameraad, 'n verpleër wat ons dr. Shinyafa genoem het, het met 'n vragmotor opgedaag, maar het geweier om my na Cassinga te neem,” het Geingob gesê.

"Slegs 'n paar dae na hierdie voorval is Cassinga aangeval, en ek het besef kameraad Shinyafa het my lewe gered," het die president vertel.

By 'n Swapo-byeenkoms wat Donderdag in Oshakati gehou is, het die party se sekretaris-generaal, Sophia Shaningwa, na diegene gekap wat glo "probeer om die Cassinga-geskiedenis te verdraai".

“Ons weet sommige van diegene wat met die vyand saamgewerk het, probeer altyd om doelbewus 'n teenstrydige weergawe van gebeure te gee, asook die geskiedenis rondom Cassinga te verdraai om die Namibiese mense te verwar, maar die geskiedenis kan nooit verander word nie, dit kan ook nie herskryf word,” het sy gesê.

VERSKILLENDE OPERASIES

Die menseregteaktivis Phil Ya Nangoloh het intussen gesê die Cassinga-opleidingskamp het nie vlugtelinge gehuisves nie. Hy het beweer Swapo het ook die kamp gebruik om bevelvoerders van die destydse People's Liberation Army of Namibia (Plan), spesifiek bevelvoerder Dimo Hamaambo, te huisves.

Ya Nangoloh het die opmerkings in reaksie op Geingob se verklaring gemaak.

“Cassinga was 'n militêre en vlugtelingkamp. Dit was 'n deurgangskamp. Dimo Hamaambo, 'n bevelvoerder, en terselfdertyd ook ander bevelvoerders, was daar gevestig,” het Ya Nangoloh gesê.

Dit sal die destydse Suid-Afrikaanse weermag (SADF) se aanval op die sentrum regverdig, het hy aangevoer.

“As iemand, 'n militêre persoon, as hulle [SADF] ’n aanval op Plan wou uitvoer, kon hulle enige plek aanval waar 'n bevelvoerder was; dit was ’n militêre kamp, ja,” het Ya Nangoloh gesê.

STRYDIGE WEERGAWES

Onder oorlogsomstandighede was die vlugtelinge wat by Cassinga gehuisves was, veronderstel om ver weg van Plan-bevelvoerders gehuisves te word, het hy gesê.

“Ingevolge oorlogswetgewing moes vlugtelinge ver van militêre mense gehuisves word.”

Die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, Utoni Nujoma, het verlede week ná Swapo se Cassinga-vieringe met ons susterkoerant Namibian Sun gepraat en bewerings dat die kamp vir militêre doeleindes gebruik is, ontken.

“Ek was self daar as ’n Plan-vegter; al die bevelvoerders van Plan – generaal Martin Shali, soos julle hom op televisie gehoor het – ons was daar aan die front terwyl ons 'n vlugteling-nedersetting gehad het,” het die minister gesê.

Volgens Nujoma het Cassinga ook gedien as 'n ontmoetingspunt vir Swapo-lede wat óf gekies het om in die buiteland te studeer óf by Plan aangesluit het vir militêre opleiding.

“Ons het 'n vesting gehad vir vlugtelinge wat van die huis af gekom het sodat hulle voorbereid kon wees vir verdere opleiding, en diegene wat bereid was om by Plan aan te sluit sodat hulle ook vir militêre opleiding kon gaan, so dit was bloot 'n ontvangspunt vir ons mense wat van die wrede apartheidstelsel gevlug het,” het hy gesê.

Nujoma het ook die teenwoordigheid van militêre beamptes geregverdig en gesê dit het as 'n afskrikmiddel vir Unita-rebelle gedien.

Asser Ntinda, voormalige redakteur van die Swapo-spreekbuis Namibia Today, het bewerings dat Cassinga 'n militêre opleidingsentrum was, ontken. Hilma Nicanor, Swapo se woordvoerder, het geweier om kommentaar te lewer en gesê sy het nie Geingob se verklaring gesien nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!