PDM-lede reageer ná hulle uit parlement geskop word

Stomgeslaan, sonder heenkome
Jemima Beukes
Sommige lede van die Popular Democratic Movement (PDM) is sonder heenkome gelaat nadat hulle hul setels in die Nasionale Vergadering (NV) moes ontruim ná die hooggeregshof hul beëdiging as ongeldig verklaar het.

Mnre. Geoffrey Mwilima en Johannes Martin en me. Esmeralda !Aebes het almal ná die verkiesing in 2019 uit hul werk as onderwysers bedank om by die parlement aan te sluit; só ook mnr. Kazeongere Tjeundo – wat ‘n streekraadslid in die Kunenestreek was, mnr. Timotheus Shihumbu, ‘n voormalige hoftolk, en die Outjo-sakeman en plaaslike owerheidsraadslid, mnr. Pieter Mostert.

In die uitspraak wat Maandag deur hoofregter Peter Shivute, adjunk-hoofregter Petrus Damaseb en waarnemende regter Theo Frank gelewer is, is hulle meegedeel dat hulle beëdiging as parlementslede as onwettig en ongeldig verklaar is en dat hulle gevolglik hul setels moet ontruim – wat byna almal werkloos laat.

Martin het Dinsdag gesê: “Ek het niks om te doen nie, want ek het [as onderwyser] bedank. As die parlement die hof se besluit implementeer, het ek geen mag om dit te verander nie.”

Shihumbu het gesê die partyleiers sal vandeesweek vergader om oor die pad vorentoe te besluit.

LAE PROFIEL

Daar is sprake binne die PDM dat die party oorweeg om dié ses vir die res van die huidige parlementêre termyn op sy betaalstaat te hou om die finansiële impak van hul onverwagse uitsetting te beperk.

Die president van die party, mnr. McHenry Venaani, wat verbete teen die hooggeregshof se besluit geveg het, het gesê daar is geen plan om die uittredende ses lede te vergoed nie.

Mostert het gesê: “Ek is ‘n sakeman. Ek sal voortgaan met besigheid en ‘n lae politieke profiel hou.”

Mwilima was stomgeslaan en het verkies om nie kommentaar te lewer nie.

Tydens die aanloop tot die verkiesing in 2019 het die PDM sy oorspronklike kieslys, wat deur sy sentrale komitee saamgestel is, ingedien om in die Staatskoerant gepubliseer te word.

Tydens hierdie proses is gevind dat sommige van die kandidate nie gekwalifiseer het om op dié lys te wees nie aangesien hulle óf “besoldigde lede van die staatsdiens” óf “lede van die Nasionale Raad, streekrade of plaaslike owerhede” was, en dus vervang moes word.

Die ses is van die kieslys verwyder en is vervang deur mee. Charmaine Tjirare en Yvette Araes en mnre. Reggie Diergaardt, Frans Bertolini, Maximilliant Katjimune en Mike Venaani (McHenry Venaani se pa).

Die laasgenoemde se name was op die lys wat die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) vir publikasie in die Staatskoerant ingedien het, maar ná die verkiesing het die PDM ‘n U-draai gemaak en die ses lede vervang met diegene wat oorspronklik op die lys was.

Tjirare en ’n mede-PDM NV-kandidaat, mnr. Hidipo Hamata, het dié besluit in die hof uitgedaag en hul prokureur, mnr. Norman Tjombe, het die verwydering van sy kliënte se name as “bedrieglik” beskryf. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!