Die woordvoerder van die ECN, De Wet Siluka. Foto argief
Die woordvoerder van die ECN, De Wet Siluka. Foto argief

Prokureur-generaal waarsku glo ECN

NEFF wen hofstryd ná deregistrasie
Die ECN is glo reeds voor die regsgeding teen NEFF gewaarsku dat hy slegs onnodige regskoste sou aangaan indien die kommissie sou besluit om die saak teen te staan.
Jemima Beukes
Dit het onlangs aan die lig gekom dat die kantoor van die prokureur-generaal glo die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) aangeraai het om nie die saak wat deur die Namibia Economic Freedom Fighters (NEFF) teen hom gebring is, te verdedig nie.

Dit kom nadat die hoërhof verlede week in die guns van NEFF beslis het en dié party se deregistrasie omgekeer het.

Die kantoor van die prokureur-generaal was na bewering voor die hofsaak bekommerd dat behoorlike prosesse nie tydens die deregistrasie van NEFF gevolg is nie.



DEREGISTRASIE

NEFF is in Junie gederegistreer aangesien die party versuim het om sy geouditeerde finansiële state vir die tydperk van 2022-’23 in te dien en vir die versuim om 2020-’21 en 2021-’22 se verkorte weergawes van geouditeerde finansiële state in twee dagblaaie te publiseer wat oraloor Namibië versprei word, soos voorgeskryf deur die kieswet.

Die staat se prokureur, Phelem Like, het in sy regsmening van 16 Julie daarop gewys dat die kommissie versuim het om die audi alteram partem-beginsel behoorlik toe te pas. Dié beginsel verseker dat enige party wat nadelige besluite in die gesig staar, eers ’n billike geleentheid gebied moet word om te reageer.

Like het die ECN gewaarsku dat die verdediging van hierdie saak net tot onnodige regskoste sou lei.

“Dit wil blyk dat die Verkiesingskommissie versuim het om die wet korrek toe te pas toe hy NEEF as ’n politieke party gederegistreer het.

“Daarom beveel ons aan dat hierdie aangeleentheid nie verdedig moet word nie, maar dat die hof hom eerder oor die reg moet uitspreek met betrekking tot die bepalings van die kieswet.

“Hierdie saak is nie een waar ons onnodige regskoste moet aangaan en ’n saak, met duidelike vooruitsigte ten gunste van die applikant [NEFF], moet verdedig nie,” het hy gewaarsku.

Like se regsadvies is verlede week geregverdig toe die hof beslis het dat hoewel NEFF nie aan die ECN se ouditvereistes voldoen het nie, moes die ECN steeds die interne prosesse uitgeput het om NEFF ’n geleentheid te gee om aangehoor te word of selfs ’n ouditeur namens hom aan te stel voor hy die opsie van deregistrasie oorweeg het.

By navraag oor die regsmening die naweek, het De Siluka, die ECN se woordvoerder, gesê: “Die kommissie het dit oorweeg en besluit om te reageer op alle navrae wat verband hou met die deregistrasie van NEFF ná behoorlike oorweging van die uitspraak.

“Die kommissie sal by so ’n oorweging ’n omvattende verklaring van sy standpunt oor die onderwerp en die pad vorentoe uitreik,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!