Professor Mutjinde Katjiua Foto Argief
Professor Mutjinde Katjiua Foto Argief

Regering erken Katjiua nié as Ovaherero-opperhoof

Sê wyle Vekuii Rukoro is nie vervang
Die regering het op mnr. Vipua Kapuuo se versoek die amptelike voertuig van die OTA geskut en gesê die tradisionele owerheid het tans geen hoof soos deur die Katjiua-faksie beweer word nie.
Jemima Beukes
Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling het die betwiste opperhoof van die Ovaherero Tradisionele Owerheid (OTA), prof Mutjinde Katjiua, ingelig dat – wat die regering betref – wyle opperhoof Vekuii Rukoro nog nie amptelik vervang is nie.

Katjiua is op 5 Maart vanjaar as opperhoof aangestel, ondanks mnr. Vipua Kapuuo, die voorsitter van die OTA-hoofraad, se protes dat eersgenoemde aan bewind gekom het deur ‘n gebrekkige en onwettige proses.

Luidens dokumente in besit van ons susterkoerant Namibian Sun het mnr. Nghidinua Daniel, uitvoerende direkteur van stedelike en landelike ontwikkeling, Katjiua in 'n brief gedateer 30 Maart 2022 ingelig dat die ministerie slegs met Kapuuo in gesprek sal wees.

“Neem asseblief kennis dat volgens die ministerie se rekords, die Ombara Otjitambi van die Ovaherero Tradisionele Owerheid oorlede is en geen amptelike aanwysing gedoen is om hom te vervang nie. Indien daar ‘n behoefte aan konsultasie oor die sake van die tradisionele owerheid is, sal die ministerie met die voorsitter van die hoofraad van die Ovaherero Tradisionele Owerheid kommunikeer,” het Daniel geskryf.

Hy het gereageer op ‘n brief van Katjiua getiteld “Ongemagtigde verandering van bankbesonderhede vir geld geoormerk vir die regering 80742, viskwotas en ander”.

Die regeringsvoertuig wat aan die OTA-hoofmanskap toegewys is, is as 80742 geregistreer.

Namibian Sun kon vasstel dat konflik sedertdien tussen die twee faksies uitgebreek het oor die gebruik van die OTA-bankrekening en die geld daarin.

Intussen het Daniel in ‘n brief – gedateer 28 Maart – ingestem tot Kapuuo se versoek om die voertuig wat aan die OTA toegewys is, te skut.

“Ons voel dit is noodsaaklik dat die regering die voertuig moet terugneem totdat die huidige dispuut opgelos is. Gevolglik word u versoek om die regeringsvoertuig 80742 met al sy bykomstighede teen Dinsdag 29 Maart 2022 aan my personeel te oorhandig vir veilige bewaring,” het Daniel geskryf.

BRIEF VAN DIE WET

Toe hy om kommentaar genader is, het Daniel gesê die regering verwag dat enige aangeleenthede wat met tradisionele owerhede en tradisionele leierskap verband hou, in streng ooreenstemming met die bepalings van die Wet op Tradisionele Owerhede van 2000 en volgens die relevante tradisionele en toepaslike wette en praktyke hanteer sal word.

“Die ministerie het reeds die twee faksies wat in ‘n dispuut gewikkel is, as sodanig gelei. Die twee faksies het hul geskil na die hof geneem. Die hof sal natuurlik die saak aanhoor en beslis oor wat voor hom gebring is,” het hy gesê.

Die waarnemende sekretaris-generaal van die OTA, mnr. Nandiuasora Mazeingo, het bevestig dat hy die brief aan Katjiua onder oë gehad het, maar het geweier om kommentaar te lewer, aangesien die saak sub-judice is.

Kapuuo, wat volhou dat hy ingevolge die tradisionele owerheidswette en dié van die OTA die waarnemende hoof is, het sedertdien op grond van sy voorsittersposisie vir Katjiua en sy volgelinge hof toe gesleep.

Die saakbestuur-verrigtinge is vir 27 April in die hoërhof geskeduleer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!